Bejaarde vrou se ontbinde liggaam in rivier gekry

Die vrou se liggaam word uit die rivier gehaal. Foto: Verskaf

Die polisie is op soek na die naasbestaandes van ʼn bejaarde vrou wie se ontbinde liggaam in ʼn rivier tussen kleinhoewes in die Heidelberg-omgewing gevind is.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het gesê die eienaar van een van die Boschfontein-kleinhoewes het die vrou se liggaam Vrydag in die rivier sien dryf.

“Die man was besig om gras te sny toe sy hond na die oewer van die rivier gegaan en vir iets begin blaf het. Die man het ondersoek ingestel en die lyk van ’n vrou gesien wat gesig na onder in die rivier dryf.”

Die man het dadelik die polisie ontbied. Polisieduikers van die Noordrand-watervleuel in Benoni het die vrou se liggaam uit die water gehaal. Tshilate het gesê haar liggaam het al te erg ontbind om op te merk of daar sigbare wonde was.

Die vermoede bestaan dat die vrou se liggaam tussen vyf en sewe dae lank in die water was. Sy het geen bewys van identiteit aan haar gehad nie.

ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om haar ouderdom te bepaal en vas te stel hoe en wanneer sy dood is.

Die Heidelberg-polisie doen in dié stadium ʼn geregtelike doodsondersoek.

Tshilate het ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom as hulle ʼn familielid sou vermis.

Volgens Tshilate het die vrou lang, grys hare en is sy omtrent 1,7 meter lank. Sy is donker van gelaat en is goed gebou. Sy is met ’n swart langbroek en bruin bloes met wit kolle aan gevind.

Enigiemand met inligting oor die voorval, word versoek om sers. Archibald Mthembi by 016 341 5175 of 082 561 0450 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooiman ·

Ek neem aan “ligte gelaatskleur” beteken wit, en “donker gelaatskleur” beteken swart? Nie om “rassisties” te wees nie, dit gaan oor die uitkenning deur moontlike familielede wat dalk die berig lees. Dieselfde met die vorige berig, ook naby Heidelberg.

Ouma ·

Foeitog!! Om so aan jou einde te kom en dan nog lank in die water te le sonder dat navraag gedoen word!! Ons mense raak harteloos!

heidelberg ·

Loop Heidelberg nou deur. Tweede vrou se lyk in Heidelberg omgewing.

Antwoord ·

Ekke, langs die R550 in die Rooikraal-omgewing volgens ‘n vroeër berig van MM.

Leidrade ·

“Verskriklike goeie” leidrade! Nee-wat, probeer maar die moontlikheid van die vrou se ras uitwys om haar naasbestaandes te soek. Dit sal beslis van hulp wees en NIE RASSISTIES !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.