Bejaarde vrou sterf maande ná plaasaanval

Hendrik en Lettie van Loggerenberg. Foto: Verskaf

Hendrik en Lettie van Loggerenberg. Foto: Verskaf

Lettie van Loggerenberg (86) is Sondag dood, net meer as twee maande nadat sy en haar man erg aangerand is op hul kleinhoewe naby Zeerust in Noordwes.

Magriet Duncan, Lettie se dogter, het gesê haar ma het sedert die aanval op 12 Mei erg agteruitgegaan. Volgens Duncan het haar ma ná die aanval ʼn beroerte gekry en was gevolglik verlam in die een helfte van haar lyf. “Sy het ook diabetes gekry en het konstante versorging nodig gehad. Sy kon nie eens meer self loop, bad of badkamer toe gaan nie.”

Volgens Duncan is haar ma Sondagoggend in ʼn hospitaal in Zeerust oorlede nadat sy Woensdag opgeneem is weens haar toestand wat agteruitgegaan het.
Van Loggerenberg en haar man, Hendrik (78), het op 12 Mei gaan inkopies doen en omstreeks 11:00 met hul terugkeer by die huis deur twee mans oorval.

Hendrik is van agter af met ʼn staalpyp geslaan waarna hy sy bewussyn verloor het. Lettie is uit haar rystoel gestamp en ook hard met die pyp geslaan. Die verdagtes het met kontant en selfone gevlug. Volgens Duncan is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Volgens Duncan het haar stiefpa altyd naby die huis se deur gestop aangesien haar ma nie ver ente kon loop nie. “Ná die aanval kon sy glad nie meer loop nie.” Duncan het gesê Hendrik is baie verward sedert haar ma se afsterwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CHRISTA ·

Ek wonder wat die ANC se kommentaar hierop gaan wees – of gee hulle maar net nie om nie??

Berhalet Beukes ·

Dis hartverskeurend… My opregte meegevoel met familie en vriende

Pieta ·

Christa, die ANC sal nooit enige kommentaar lewer nie, want die persoon is nie die velkleur wat hulle raak nie. Sterkte aan die familie.

Liewe lulu ·

Sal dit nie help om die MRK te dagvaar nie. Ons het ook mos regte, nie net die kriminele nie

Theresa ·

Mens lees baie min (indien ooit) dat slegs een “person” bejaardes, kinders en ander mense deesdae voorlê, inwag, aanrand, vasbind, beroof, martel, hul elektronika steel.
Altyd meer as een.
Dalk moet ons toesien dat ons oues van dae en ons kinders toegerus is met iets soos spy cam wat op hul selfoon wys of dit veilig is om by die huis (en direk om die huis indien moontlik) in te gaan. En “beams” om die huis wat afgaan as mens nie tuis is nie, moet ook op die selfoon die waarskuwing gee.
Oud en jonk is in gevaar – daar bestaan nie meer so iets dat mens iewers kan gaan, sonder om paraat te wees nie en oues van dae kan nie meer soepel hulself verdedig nie.
Hoeveel van die jongmense kan hulself verdedig? Daar is eintlik baie huiswerk te doen.
Ons moet dit ‘n projek maak tussen ons vriende en familie. Daar is kenners wat graag so ‘n projek sal aanpak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.