Bejaarde weduwee op Moedersdag vermoor

Annatjie Kruger (links), haar kleindogter, Amor Adlem, en dogter, Thea Pringle. Foto: Verskaf.

Annatjie Kruger (links), haar kleindogter, Amor Adlem, en dogter, Thea Pringle. Foto: Verskaf.

Toe die bejaarde Annatjie Kruger nie Sondagoggend vir kerk opgedaag het nie, het gemeentelede dadelik onraad gemerk.

“Ek wens mense kan eendag van my lewe só getuig dat as hulle my nie in die kerk kry nie, daar iets fout is,” het Amor Adlem, Kruger se kleindogter, aan Maroela Media gesê. Kruger, ʼn jare lange inwoner van Orkney in Noordwes en weduwee van evangelis Pieter Ernst Kruger, se liggaam is Sondag laatmiddag in haar woonstel in Dickenslaan gevind. Sy het Dinsdag haar 89ste verjaardag gevier.

Adlem, wat in Nelspruit in Mpumalanga woon, het gesê sy en haar ma, Thea Pringle, wat in Swaziland woon, het Sondag begin onraad merk toe hulle Annatjie wou bel om haar ʼn gelukkige Moedersdag toe te wens, maar nie in die hande kon kry nie.

“Ons praat gereeld met my ouma oor die telefoon omdat ons so ver is,” het Adlem gesê. “Ons het aanvanklik gedink sy is in die kerk, maar toe haar gemeentelede ná kerk navraag doen oor waar sy was, het ons geweet iets skort. Sy was altyd in die kerk en dit was deel van haar roetine.”

Die gesin het by die buurvrou navraag gedoen wat gaan ondersoek instel het. “Sy het geklop, maar my ouma het nie die deur oopgemaak nie. Haar foksterriër, Lyla, het net van binne af geblaf en haar motor was weg.”

Adlem het omstreeks 16:00 uit desperaatheid ʼn vriendin wat op die dorp woon en ʼn polisiebeampte is, gebel en gevra of hulle nie kan gaan ondersoek instel nie. Nadat Kruger se woonsteldeur oopgebreek is, het die polisie en Pringle se neef, Leon Jacobs, omstreeks 17:00 Kruger se liggaam in haar kerkklere op die vloer van haar slaapkamer aangetref. Sy het ʼn snywond aan haar keel gehad.

Kruger se klein televisie met haasoorantenna, ʼn selfoon ter waarde van skaars R300, beursie en haar motor, ʼn wit Mercedes met die registrasienommer HSR 643 NW, word vermis.

“Lyla het my ouma nog probeer oppas toe die polisie daar aangekom het en wou diegene byt wat naby haar liggaam gekom het.” Lyla word tans deur Kruger se buurvrou versorg. Haar papegaai, Krappie, is in die sorg van Adlem se polisievriendin.

Adlem het gesê Kruger se buurvrou het nog Sondagoggend gehoor toe sy Lyla buitentoe laat gaan het. Nog omliggende inwoners in die klein kompleks waar Kruger gewoon het, het gesê hulle het haar voertuig nog voor 08:00 opgemerk en daarna aangeneem sy is daarmee kerk toe.

Dit is nog nie duidelik hoeveel verdagtes by die voorval betrokke was nie. Adlem beskryf haar ouma as ʼn baie gelowige mens met ʼn goeie hart wat met die min pensioengeld wat sy verdien het, ander sou help. “Sy sou gereeld bestanddele aankoop en dan sop en broodjies aan hulpbehoewendes uitdeel.” Haar man is in 1979 in die Ou Apostoliese kerk in Orkney oorlede nadat hy ʼn diens gelewer het. Kruger het steeds daar eredienste bygewoon.

“Ek sal haar onthou vir baie dinge, maar haar grootste nalatenskap is haar voorbeeld as mens met ʼn getroue verhouding met die Here. Sy laat ʼn groot leemte vir die familie en in die gemeenskap.”

Adlem het gesê hulle sal Kruger se lewe gedenk. “Sy kon mooi klavier en orrel speel en het nog steeds in die koor gesing. Ons sal haar daarvoor onthou.”

Kruger se begrafnisreëlings is nog nie getref nie, maar sy sal langs haar man in die begraafplaas op die dorp begrawe word.

Sy laat haar dogter, Pringle, suster, Meisie van Tonder, en drie kleinkinders agter. Hulle is Adlem, Bianca van Biljon en Pieter van Biljon.

Kol. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van moord, roof en motordiefstal word deur die Orkney-polisie ondersoek. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie en haar motor is steeds soek.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om die Orkney-polisie by 018 473 2111 of kapt. Wilbers by 082 373 8216 te bel as hulle Kruger se motor opmerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Otter

Dit doen mens leed om hiervan te hoor. Die slagoffees is nie net ‘n statistiek met ID nommer nie, dis iemand se ouma, ma, eggenote, vriendin, suster in die gemeente, werkgewer, verlangse familie van my vrou wat ‘n nooi Kruger is

Theresa

Innige simpatie aan al die familie. Wat ‘n skok! Mag die oortreder spoedig aangekeer word en ‘n erge straf opgelê word. Ongelukkig bring dit steeds nie jul staatmaker ouma terug nie.
Moordenaars moet lewenslank uit die samelewing verwyder word.

Karma

Dit is SO, SO, SO hartseer!!! Hierdie 89-jarige ou dame het NIEMAND niks gedoen nie; sy het met haar karige (seker staats-) pensioen nog vir mense sop en brood gemaak en uitgedeel. Om die Polisie te blameer hiervoor, is nie regverdig nie. DIe Polisie (ten minste sommige van hulle) is nie die kriminele nie. Die eis en vraag moet gestel word voor mnr. Zuma en die ANC: hierdie was ‘n bejaarde, onskuldige dame (hoewel wit): mnr. Zuma en waarnemende Nasionale Polisie-Kommissaris Lieutenant-General Khomotso Phahlane, wat doen JULLE omtrent die misdaad in die land? Hoekom moes hierdie ou dame hierdie wrede… Lees meer »

Eileen

Wat ‘n pragtige oumatjie met sagte oë wat op so ‘n wrede manier moes gaan. Sterkte aan die familie, en mag die skuldiges gou aan die pen ry.

Catherine Mendel

My innige medelye aan haar kinders en familie….maar ek wil net vir julle hierdie vers uit die Heilige Skrif gee… Openbaring 20:4 “En ek het Trone gesien…en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee: en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die Woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en hand nie ontvang het nie; hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” Satan… Lees meer »