Bejaardes deur kragopwekkerwalms oorval

Lede van Emer-G-Med is na die huis ontbied (Foto: Verskaf)

’n Bejaarde egpaar is Donderdagaand na die hospitaal gejaag toe hulle klaarblyklik deur die petrolwalms van hul kragopwekker oorval is.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê lede van Emer-G-Med is na ’n huis in Moreletapark in die ooste van Pretoria ontbied.

“By die lede se aankoms op die toneel het hulle die bejaardes bewusteloos in die motorhuis aangetref. Hulle is deur petrolwalms van ’n kragopwekker oorval,” sê Van Reenen.

Van Reenen sê die bejaardes moes die kragopwekker aangeskakel het ten tyde van beurtkrag.

“Dit lyk of die vrou probeer het om haar man by te bring nadat sy hom aangetref het waar hy bo-oor die kragopwekker ineengestort het.

Die vrou kon daarin slaag om ʼn noodknoppie te druk wat die sekuriteit ontbied het, voordat sy ook inmekaargestort het. Die sekuriteitsmaatskappy het Emer-G-Med toe in kennis gestel.

Paramedici het die bejaardes op die toneel behandel voordat hulle per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Philip ·

Ek dink die berig is moontlik nie heeltemal korrek nie, dit is dalk uitlaatgasse van die opwekker wat hulle oorval het en nie petroldampe nie. Dit het al voorheen gebeur dat die uitlaatgasse van opwekkers mense oorval.

Anton ·

Ek kan nie verstaan dat niemand nog ‘n “class action suit” teen Eskom begin het nie. Bestaan die opsie nie in Suid-Afrikaanse wet nie?

Barend ·

Masjienerie wat brandstof gebruik skei baie koolstofmonoksied af wat dan baie vinnig met suurstof verbind om koolstofdioksied te vorm. Dis ook hoekom gasverwarmers so gevaarlik is.

Anel ·

Bly die mense is so gou gehelp. My pa, 90, het in die week ook amper hulle huis aan die brand gesteek met ‘n gasbottel. Daar was beurtkrag en hy wou opsluit koffie h~. Die gasstofie was nie behoorlik vas gedraai nie en die bottel raak toe aan die brand. Gelukkig het my ma kop gehou en die bottel uitgedra. Sy kon die vlamme ook blus. Maar as pa alleen was kon daar ‘n groot ramp gewees het. En dit net agv van ons onbevoegde regering en al hul diefstal!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.