Bejaardes erg aangerand tydens hoewe-aanval

Die huis is deur die aanvallers geplunder (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Die foto’s in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

‘n Bejaarde paar en ’n 45-jarige man is Dinsdag vroegoggend deur drie aanvallers oorval en aangerand op ’n hoewe in die Sinoville-omgewing, noord van Pretoria. Die hoewe is in die Sinoville-woongebied geleë.

Die aanvallers het vroegoggend, tussen 01:00 en 02:00, die huis binnegekom. Hulle het die kombuisdeur se staalhek gebreek.

Phida Strydom (78) en Louis Jacobsz (74) was besig om te slaap toe die aanvallers ingebreek het. Strydom se 45-jarige seun, Louis, wat by hulle in die huis woon, was in ’n ander kamer ook aan die slaap.

Jaco Nel, Phida se skoonseun, vertel die aanvallers het eerste na sy skoonma-hulle se kamer gegaan. Hulle het die bejaarde paar in hul bed met messe en ’n vuurwapen oorval en begin aanrand.

Die aanvallers het die bejaardes met skoenveters vasgemaak en die kluis se sleutel geëis. Hulle is toe na Louis se kamer toe.

“Ek was nog besig om te slaap toe iemand skielik met ’n flits in my kamer kom. Ek dog eers dis oom Louis, maar toe sien ek die wapen in die man se hand. Hy het gesê ek moet vir hom die kluis se sleutel gee of hulle gaan my skiet. Hy het die geweer teen my kop gedruk, my hande en voete met skoenveters vasgebind en gesê ek moet op my maag lê en stilbly,” vertel Louis.

Louis sê hy het nie geweet waar die kluissleutel is nie. “Mens voel so weerloos as iemand ’n wapen op jou rig. Ek het als gedoen wat die man my gevra het. Ek het vir hom gesê hy kan alles vat, maar my net los,” vertel Louis.

Lizel Nel, Phida se dogter, vertel ’n man en vrou, wat vir Jacobsz los werkies doen en wat buite die huis in ’n buitehuis woon, is ook deur die aanvallers aangerand. Dié paar het ’n eenjarige dogtertjie.

“Die aanvallers het die eenjarige dogtertjie na my ma-hulle, wat in hul kamer vasgebind was, gevat. Hulle het gedreig en gesê hulle gaan die baba doodmaak as my ma nie die kluissleutel vir hulle gee nie,” vertel Lizel.

Lizel sê die aanvallers het toe in ’n stadium hulle maskers van hul gesigte afgehaal. “Dit is toe dat my ma dink hulle gaan doodgemaak word.”

Die aanvallers het die huis geplunder en is met selfone, geld, ʼn kredietkaart en ’n televisie vort.

Na die aanvallers weg is, het Phida daarin geslaag om haarself los te kry. Sy het Jacobsz en toe Louis daarna losgemaak.

“Phida het na die huishulp, wat buite in ’n kamer woon, geroep. Die huishulp het toe vir my gebel. Ek en Jaco het dadelik in die kar gespring en soontoe gery. Toe ons daar aankom, was die paramedici en polisie reeds daar. Ons het op my bebloede ma-hulle in die kamer afgekom,” vertel Lizel.

Phida en Jacobsz is steeds in ’n hospitaal in Pretoria. Lizel sê haar ma-hulle het wonde teen die kop opgedoen. Haar ma is onder meer in die hand met ’n mes gesteek.

Jacobsz is al na ’n algemene saal oorgeplaas. Die dokter het bevestig hy het niks gebreek nie. Phida is tans onder waarneming en wag nog vir terugvoer van die dokter.

Maroela Media het Dinsdagoggend navraag aan kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Michael 1 ·

Elke dag word wit mense op plase aangeval deur swart aanvallers is die motief nog roof soos dr Burger beweer of is die motief nou ras gedrewe en waar is die VF+,Afriforum en Solidariteit en waneer blokkeer ons die snelweë en blokkeer die dorpe af.?

Oujongvrou ·

Dit wil baie van ons weet. Wittes is net sulke lafaards.

Stefan ·

Ons is ook pensionarisse op ‘n hoewe.
As ek met al hierdie goed in die nag wakker skrik van inbraak geluide, sien ‘n paar swart gesigte en skiet hulle word ek aangekla van moord.
En die hele wereld roer geen vinger nie want black lives matter.

Andre ·

Ek vra weer. Is hier leiers wat oortuig is dat daar realistiese oplossings is want dit is nou besig om heeltemal buite beheer te raak. Word oorsese lande ingelig of is dit ‘n geval van niemand gee ‘n duit om nie

Catantho ·

Wees jý die leier en sorg dat dit by internasionale publikasies en organisasies uitkom. Leuenstoelverset bring niemand nêrens

Yolandie ·

Lyk my jag seisoen op ons boere het nou begin…….Ek sidder…..en wil van my kop af raak as ek vd aanrandings, moord en doodslag op “ons” mense lees. Dit maak my siek!!!!

Erik ·

Hierdie is vreeslik, maar net soos wat meeste mense hier min simpatie het met die 50+ moorde wat daagliks in townships en op die Kaapse vlakte plaasvind, sal die regering min simpatie hê met ons. Dit gaan nie vinnig verander nie. Inteendeel, dit gaan nie verander nie.

Jack ·

Gee nie om wie wat se nie maar dit is duidelik dat n georkestreerde aanslag op wit lewens gedoen word en dat dit die ondersteuning van Ramaphosa en sy regering geniet. Dit is tog duidelik uit sy toesprake waarin hy altyd verwys na “ our people”. Luister maar mooi na sy uitsprake. Nie n tikkie daarvan het te doen met die waarde van wit lewens nie. Hy is ongelukkig nie n betroubare persoon nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.