Bejaardes in nood weens hysbak-krisis

‘n Inwoner by die ingang na die Tweede Park-woonstelle in Brakpan waar die hysbak nie meer werk nie.

‘n Inwoner by die ingang na die Tweede Park-woonstelle in Brakpan waar die hysbak nie meer werk nie.

Tientalle bejaardes van die Tweedy Park-woonstelblok in Brakpan verkeer in nood en leef in haglike omstandighede, onder meer weens twee hysbakke wat buite werking is.

Die woonstelblok op die terrein van die Frank Mynhardt Tehuis vir Bejaardes het twee hysbakke wat buite werking is. Die een is vir goedere en die ander vir die 112 inwoners. Die goedere-hysbak werk al vier jaar lank nie terwyl die ander een glo reeds drie maande buite werking is.

Inwoners met erge gesondheidsprobleme het aan Forum Nuus vertel hoe onmoontlik dit vir hulle is om hul woonstelle op die sewende en agtste verdieping te verlaat. Mev. SW Schoonveldt het gesê: “Ek moet 18 uur van die dag suurstof kry. Ek kan nie die tenk op en af dra nie, want dit is te swaar. Die ander suurstofmasjien werk met elektrisiteit. Ek bly maar meestal op die sewende verdieping omdat ek nie asem het om op te gaan wanneer ek eers onder is nie.”

Mnr. Chris Vlok sukkel ook wanneer hy die trappe op en af moet gebruik. “Ek moet gereeld eers vir drie of vyf minute staan en rus. Ek het in Januarie my heup gebreek en sukkel om te loop.”

Die hysbak by die Tweedy Park-woonstelblok in Brakpan waar die kabels gesteel is.

Die hysbak by die Tweedy Park-woonstelblok in Brakpan waar die kabels gesteel is.

Nog ’n inwoner met longprobleme wat anoniem wil bly, het aan Coco Brooks, ’n familielid van een van die inwoners, gesê dit gaan baie moeilik sonder ’n werkende hysbak. Sy het vertel hoe daar onlangs gesukkel is om siek bejaardes uit die woonstelle te verwyder. In een geval is die brandweer en ambulans laat kom om ’n bejaarde te verwyder. Sy is ’n paar uur later dood. In ’n ander geval kon die lyk van ’n inwoner nie met die hysbak na onder gebring word nie, en is sy net in ’n kombers toegedraai en met die trappe afgedra.

Chris Fourie, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid, het gesê dit is skokkend en tragies dat bejaardes en pensioentrekkers in sulke moeilike omstandighede moet leef. “Die metroraad kom nie sy grondwetlike en menslike plig teenoor hulle na nie.”

AfriForum het ’n waarskuwing aan die metroraad uitgereik en gee hulle sewe dae tyd om die hysbak te herstel. Indien dit nie gebeur nie, sal gekyk word of daar grond vir strafregtelike vervolging is. AfriForum sal ook ’n kontrakteur vir die herstelwerk aanstel en die koste van die metroraad verhaal as hulle nie optree nie.

Fourie het gesê daar is aanduidings dat die een hysbak langer as drie maande gelede versien is. Volgens ’n inspeksieboek wat by die woonstelblok ingevul moet word as daar aan die hysbak gewerk word, was die laaste inskrywing op 21 Oktober 1993.

Die moeilike omstandighede waarin die inwoners verkeer, het ook daartoe gelei dat Solidariteit Helpende Hand ingegryp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarie ·

Sannie baie van daai oumense in die plek het nie eers kinders nie. Daai oumense betaal om daar te woon. Die plek behoort aan die Ekurhuleni-metro so dit is net reg en hul, die metro se plig om die plek in werkende stand te hou. Hierdie probleem kom al oor baie jare, langer as vyf jaar, ek as voormalige joernalis wat baie baie jare in die gebied gewerk het, wat twee blokke van die kompleks af woon, het male sonder tal al hieroor geskryf en die metro hieroor aangevat, maar dit is nou soos nommer een, hulle lag jou uit oor alles en intussen was daar al ‘n geval waar ‘n inwoners se lyk met die trappe afgedra moes word omdat die hysbakke nie werk nie, dan het die kompleks ook nog kort-kort waterprobleme. Dit is ‘n absolute skande. Dit is daar inwoners se grondwetlike reg om volhoubare en goeie verblyf te kry waarvoor hulle of hul kinders betaal.

Peet J ·

Sannie Goed en wel die kinders kan sekerlik help as hulle in die omgewing woonagtig is maar dit is nie ‘n oplossing vir die probleem nie. Die verantwoordelike instansie behoort gereeld inspeksies uit te voer om toe te sien dat die toerusting in ‘n veilige werkende toestand is.
Wat gaan gebeur as daar ‘n brand uitbreek?

Sarie ·

Ek kan net eenvoudig nie verstaan wat die metro se idee hier is nie!!! Is dit net doodeenvoudig ‘n kwessie van aag bogger die ou mense of wat gaan aan? Hierdie problem kom al baie jare. Toe ek tydens die laaste munisipaleverkiesing (2011) as ‘n onafhanklike kandidaad gestaan het, het die tehuis in my wyk geval. Toe al het ek hordes klagtes daaroor ingedien. As eertydse joernalis wat in Brakpan woon het ek totdat ek twee jaar gelede uiteindelik afgetree het, male sonder tal hieroor geskryf, ek het op die metro se drumpel gele, maar dit is asof hulle ‘n koeelvaste muur rondom hulle gebou het en nie eers die klagtes hoor nie. Ek dink regtig dit het tyd geword dat sakeondernemings in die dorp saamstaan en die metro hof toe neem oor hierdie baarbaarse behandeling en minagting van die Grondwet van hierdie oumense. Dit is die inwoners se grondwetlike reg omdie gebruik van hybakke wat werk in hul gebou te he. Hulle woon nie verniet in die plek nie, hulle of hul kinders betaal vir hul verblyf. Hierdie is ‘n absolute skande!!!!

Peet J ·

Die hysbakke is al vir 3 maande in die Tweedy Park woonstelblok buite werking en volgens wat ek kan aflei doen die media en ander betrokkenes maar net berig van hoe haglik die inwoners se daaglikse omstandighede is. Is dit nie moontlik vir die twee opposisie partye om die saak met die hoof van Ekurhuleni metro te bespreek en aan hom/haar die gevare sowel as die onmenslike toedrag van sake te verduidelik nie. Ek is oortuig daarvan dat dit nie op dowe ore sal val nie en om die hysbak herstel te kry gaan sekerlik nie duisende rande beloop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.