Bejaardes kwesbaar; staatsafhanklikheid neem toe

Argieffoto: Pixabay

Die jaarlikse Tooi Turkoois vir Bejaardes-inisiatief, ʼn maand waartydens kritieke aspekte rakende bejaardesorg uitgelig word, sluit vandag (15 Junie) op die Internasionale dag teen die mishandeling van ouer persone af.

“Na ʼn vreugdevolle tydperk waarin die Ons Tuis-aftreeoorde Tooi Turkoois behoorlik gevier en die groothartigheid van Suid-Afrikaners opnuut beleef het, voel dit swaar om hierdie ernstige onderwerp aan te roer.

“Bejaardemishandeling is egter ʼn realiteit en die onus rus op elke Suid-Afrikaner om bedag hierop te wees en dit aan te meld. Hierdie mishandeling kan fisiek, emosioneel of finansieel wees,” waarsku Natasha van Tonder, maatskaplike werker van die groep aftreeoorde.

Nagenoeg 9% van Suid-Afrika se bevolking bestaan uit persone bo die ouderdom van 60 jaar oud.

Luidens Statistieke SA se mees onlangse verslag wat in Maart uitgereik is, het:

  • minder as ʼn kwart van dié groep toegang tot ʼn mediese fonds.
  • die persentasie ouer persone wat alleen woon van 10,2% tot 9,8% oor die afgelope vyf jaar afgeneem.
  • die meeste bejaardes deel uitgemaak van ʼn uitgebreide huishouding.
  • die groep se staatsafhanklikheid gedurende 2015 tot 2019 van 12,3% tot 12,9% toegeneem.

“Uit bogenoemde statistieke is dit duidelik dat ons bejaardes op soveel terreine kwesbaar is en dikwels in afhanklikheid van ander persone leef. Mishandeling van bejaardes is ʼn groeiende maatskaplike probleem in Suid-Afrika wat skaamteloos in alle gemeenskappe voorkom; ongeag jou ekonomiese, kulturele of geloofstatus,” sê Van Tonder.

Terwyl fisieke mishandeling oor die algemeen die maklikste is om te identifiseer en te behandel, is sy spesifiek meer bekommerd oor die sielkundige letsels wat emosionele mishandeling laat.

“Ons het al gevalle gehad waar ʼn ouma of ʼn oupa by hul kinders moet woon. Uit frustrasie wat ontstaan, word die ouer persoon soms verbaal verneder en afgekraak as lastig of ʼn nikswerd.

“Daar word nie net vir hul gesê hulle is in die pad nie; hul voel in die pad. Hierdie onsigbare emosionele skade word dikwels misgekyk en neem baie lank om te herstel,” verduidelik sy.

Om bejaardes van hul pensioenfondse te weerhou, nie hul voorgeskrewe medikasie of aandag aan ander basiese behoeftes te gee nie, kom alles neer op mishandeling.

“ʼn Bejaarde se sosiale, ekonomiese, geestelike en gesondheidstoestand word grootliks deur hul huislike omstandighede bepaal. Daarom is dit vir Ons Tuis belangrik om die Internasionale dag teen die mishandeling van ouer persone te huldig en om na die fisieke en emosionele welstand van al ons inwoners om te sien.”

Van Tonder maan ter afsluiting dat ʼn mens die verantwoordelike ding moet doen en vroegtydig voorsorg vir jou oudag moet tref om te verseker dat jou ouer jare wel jou goue jare is.

Indien lesers bewus is van enige bejaardes wat mishandel word, moet hulle onmiddellik die departement van maatskaplike ontwikkeling of hul naaste polisiestasie daarvan in kennis stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Opdekopje ·

Meer so as andere groepe moet die staatstoelae aan bejaardes drasties aangepas word en voorwaardes om in aanraking daarvoor te kan word verslap word.

JM ·

Hoe jy ‘n bejaarde behandel, sê ALLES van jou as mens; jy gaan ook oud word.

Anoniem ·

Kyk net dat dit by die “regte” bejaardes ontvang word.

Winnie ·

Waar kry mens blyplek en lewensmiddele vir die huidige belaglike SASSA toelae geen wonder die ou mense beland in plekke waar hulle so behandel word. Ek stem verhoog die toelae

Anoniem ·

Bejaardes is kosbaar. Dit gaan my verstand te bowe dat hul mishandel word, nie net deur ander nie maar deur hul eie kinders, familie lede.

Winnie ·

Hoe kry ek die pop up blokkies 1 en 5 weg as ek wil kommentaar wil lewer want om op die kruisies te druk werk nie. Dis erg irriterend

Sune van Heerden ·

Dagsê Winnie

Dankie vir jou boodskap.
Kan jy dalk asseblief vir ons ‘n skermskoot stuur na [email protected]?
Dan kan ek die tegniese span vra om ondersoek in te stel.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.