Bejaardes op plaas aangeval: “Haar beskerm­engel het oortyd gewerk”

Kerneels du Plessis (Foto: Verskaf)

“Toe ek my pa hoor gil, het ek geweet iets is fout.”

Só vertel Willem du Plessis (42) toe sy ouers, Kerneels (72) en Fiena (78) du Plessis, Woensdagoggend op hul plaas in Kareepoort buite Brits deur aanvallers oorval en beroof is.

Du Plessis, wat deeltyds saam met sy pa boer en sowat 50 m van sy ouers se huis op die plaas woon, het omstreeks 05:00 die oggend wakker geskrik toe hy sy pa hoor skree. Hy het dadelik die paniekknoppie gedruk en die plaaslike sekuriteitsmaatskappy asook boere van omliggende plase ontbied.

“Toe ek na my ouers se huis toe hardloop, het ek my pa gesien. Hy was vol bloed van kop tot tone,” vertel Du Plessis.

Du Plessis sê sy pa het omstreeks 04:30 opgestaan om te gaan stort, maar daar was geen warm water nie. “My pa het buitentoe gegaan om te kyk of die geiser se  gas dalk op is. Hy het om die huis geloop en gesien die gasbottel is skoonveld. Dis toe dat my pa teen een van die aanvallers vasloop.”

Hy vertel sy pa en die aanvaller het begin stoei en volgens hom het sy pa “die aanvaller ore aangesit”. Die aanvaller het toe sy ander twee trawante nader geroep. Hulle het Kerneels oorrompel en met ’n panga, bakstene en ’n ysterstaaf aangeval.

Die aanvallers het Kerneels in die huis ingesleep, waar hulle die meeste kosbare besittings gesteel het. Maroela Media het vroeër berig die aanvallers is onder meer met die televisiestel, skootrekenaar, gereedskap, radio en die gasbottels vort.

Du Plessis vertel sy ma was in die kamer tydens die voorval.

“Toe my ma die gille hoor, het sy na die sitkamer gegaan om te kyk wat aangaan. Dit is toe dat sy teen nog ’n makker vasloop. Hy het net gestaan en kyk na haar en niks aan haar gedoen nie. Sy het omgedraai en haar in die kamer gaan toesluit.”

Dit is nie die eerste keer dat die egpaar op hul plaas aangeval is nie. Du Plessis sê sy ouers is sowat tien jaar gelede vir die eerste keer in hul plaashuis aangeval. Sy ma het toe ook niks oorgekom nie. “Haar beskermengel het oortyd gewerk,” sê Du Plessis. Hy is dankbaar sy ma is ongedeerd ná die voorval.

Du Plessis se pa het ernstige kopbeserings opgedoen en sy een arm is ook beseer. Hy is ná die voorval na Mediclinic in Brits geneem waar die dokter die bloeding stopgesit en dreineringspype ingeplaas het om die drukking op sy brein te verlig.

Du Plessis sê sy pa gaan moontlik Vrydag ontslaan word. “Hy is ’n regte boere-omie. Sterk. Niks kry hom onder nie.”

Nog geen verdagtes is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Dit is vir my so hartseer dat mense in hierdie land deur sulke trauma moet gaan.

Hannelie

Hierdie gemors in die land sal NOOIT ophou nie….want die President gooi ‘n blinde oog. Sterkte aan die familie hoop die Predident kom besoek jul ook.

katryn

En niemand sal ook in hegtenis geneem word nie. Kyk mooi. Saak sal ‘n stil dood sterf. Soos miljoene ander. Bly die mense het dit oorleef. Net nog ‘n statistiek.

Alet

So hartseer om dit te lees. Ons is nie meer veilig waarookal ons woon nie… Dis regtig ‘n gemors. Ek wil net weet waarom daar nie reageer was toe die paniek knoppie gedruk was nie.

Lorayne

So bitterlik hartseer. . . Sout van die aarde mense , hardwerkende, wetsgehoorsame burgers. En op jou oudag wanneer jy weerloos is, (nie dat hierdie oom ENIGSINS weeloos lyk nie) word jy deur lafaards in ‘n trop aangeval! Dankie Here vir Willem en dat U hand oor sy ouers was . . .