Bek-en-klou: ‘Regering veroorsaak krisis’

DA-leier John Steenhuisen tydens ‘n besoek aan ‘n veilingshuis in Limpopo. (Foto: DA/Twitter)

Wat presies is die regering se plan om bek-en-klouseer te stuit?

Dit is DA-leier John Steenhuisen se vraag aan die minister van landbou ná hy vandeesweek onder meer ʼn afslaer in Bela-Bela in Limpopo besoek het.

“Die afslaer, soos talle ander landwyd, is ernstig geraak deur die regering se aanvanklike gebrekkige reaksie op die uitbreking van bek-en-klouseer in die provinsie, gevolg deur ʼn hopelose oorreaksie in die vorm van ʼn landwye verbod op veilings,” het Steenhuisen Donderdag gesê.

Hy het minister Thoko Didiza gevra om binne 21 dae aan die parlement te sê wat haar departement se plan met die bekamping van die siekte is, en sê dit moet insluit die opheffing van die verbod in gebiede wat nie geraak word nie.

Steenhuisen sê die rede vir die verbod klink edel – om die verspreiding van die siekte te keer – maar dat die regering ʼn tienpondhamer in ʼn situasie gebruik het waar ʼn skalpel nodig was. “In die proses is enorme skade aangerig aan almal wat ʼn inkomste uit die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf verdien.”

Hy sê die bestuur van ʼn bek-en-klouseer-uitbreking is ʼn lang en ingewikkelde proses en as dit verkeerd gedoen word, kan die gevolge verwoestend wees.

“Wat hier in Limpopo gebeur het nadat bek-en-klouseer by ʼn afslaer naby Polokwane gevind is, is ʼn klassieke voorbeeld van wat om nié te doen nie.”

Steenhuisen sê die regering moes ná die aanvanklike kwarantyn- en toetstydperk dadelik begin het om plase, toerusting en voertuie te ontsmet. “Hulle het nie en boere moes die regering se werk op hul eie koste doen.”

(Argieffoto)

Hy sê weens die regering se gebrek aan behoorlike optrede het die situasie in ʼn krisis verander. Die grootste skade is boonop tydens die hantering van die 2018-uitbreking aangerig. “As dit behoorlik bestuur is, en vir die totale ses maande soos voorgeskryf, sou die siekte bedwing kon word. Maar soos enige ander ANC-projek het ʼn gebrek aan geld ʼn vroeë einde aan die rehabilitasietydperk gemaak.

“Weens ʼn gebrek aan geld om oortyd te betaal is die padblokkades en vervoerbeperkings te vroeg verlede jaar opgeskort. Iemand het dié kortpaaie uitgebuit en besmette beeste ingebring. Wat gevolg het, is waarskynlik die grootste uitbreking nóg in Suid-Afrika.”

Die DA-leier sê as dit boonop nie was vir die ongelooflike pogings van boere wat die verantwoordelikheid en koste vir die bekamping van die siekte dra nie, was die situasie vandag veel erger. “Die boeregemeenskap het proaktief en onselfsugtig opgetree en talle van hulle het groot geldelike verliese in die proses gely. Ons land is hulle groot dank verskuldig.”

Steenhuisen sê eers nadat die koeël deur die kerk was, het die regering opgedaag en toe die landwye verbod – met rampspoedige gevolge vir handel in die streek – ingestel.

Klein- en bestaansboere is die swaarste getref en daar is toenemende berigte van plaaswerkers wat noodgedwonge afgelê moet word.

ʼn Groep besorgde boere, verskeie afslaers en ʼn lewendehawekoöperasie is onder diegene wat die hooggeregshof intussen gevra het om die algehele verbod op lewendehaweveilings dringend tersyde te laat stel.

Dié aansoek word op 24 Maart aangehoor.

Die DA sê hy steun dié optrede.

“Boere spook nog met die verwoestende droogte wat die meeste provinsies getref het, om nie eens te praat van die dreigement van onteiening sonder vergoeding wat oor hulle koppe hang nie. Die laaste ding wat hulle nodig het, is vir die regering om selfs meer hindernisse in hul pad te plaas.”

Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisbedryfsforum en die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het vroeër gesê die forum het besluit om nié by die regsgeding betrokke te raak nie, omdat die regering wél besig is om sy werk te doen, asook in ʼn poging om uitvoermarkte te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

henndrik ·

Ek is nie aldag seker of die mense verantwoordelik vir optrede weet hulle is verantwoordelik nie en dan weet hulle duidelik ook nie hoe nie.

RekmyBek ·

Ek dink nie mense besef wat eintlik aan die gebeur is nie….. hierdie is net nog n stadige smoring van die ANC om boere tot op hul kniee te kry dat hul opgee en padgee van die grond af….
Hulle is besig met n baie slim plan onder die kamstige vaandel van onkunde…

Madz ·

Ek stem… ek ruik “rassisme” ‘n hele bleddie myl vêr…. en dit ten KOSTE van ander mense!

Piet parys ·

Wel as ons tot 24 Maart moet wag vir die hofsaak sal daar weereens plaaswerkers afgele word want niemand kan werkers dra vir maande nie dan kan die regering hulle maar staatstoelae gee . Thoko sit lekker agteroor handegevou en wag laat die boere tot niet gaan moet onthou as daar nie meer i landbou is nie het sy nie meer werk nie

Louis ·

As daar nalatigheid was is die regering aanspreeklik. Doen dan wat julle moet doen. Beskou “het nie die kundigheid nie” daar is nie geld nie” as deel van die ANC se nalatigheid met die aanstelling van onkundiges en die onoordeelkundige gebruik van geld.

Miskruier ·

Dié regering stel nie belang daarin om die boere te help nie, hul chinese meesters wag om grond oor te neem .

Plaaskind ·

Alles wat die regering aan raak is ‘n gemors en gaan tot nuut.

Leon ·

Die regering wil nie hulle kiesers se rondloper beeste skut of vernietig nie. Daarom kan bek en klouseer nie gestuit word nie. Dan stop hulle maar die veilings. Hulle is bang, skud hulle die kiesers se rondloper beeste, sal hulle met die volgende verkiesing verloor by die stembus.

netekalleen ·

En op die opu einde is die land in chaos, want honger mense verloor alle respek en redenasie vermoe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.