Bek-en-klouseer: Agri SA ook bekommerd oor veilingverbod

(Argieffoto)

Agri SA, een van die land se grootste landbou-organisasies, het Saterdag sy kommer uitgespreek oor die tydelike verbod wat vroeër vandeesmaand op veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geplaas is nadat bek-en-klouseer wéér in dié provinsies uitgebreek het.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, meen die besluit gaan ʼn negatiewe ekonomiese impak op die landbousektor hê. Van Zyl praat uit dieselfde mond as TLU SA en die VF Plus wat reeds dié besluit fel gekritiseer het.

Die departement van landbou, bosbou en visserye het vroeër vandeesmaand die tydelike verbod op veilings in die Staatskoerant afgekondig.

Maroela Media het vroeër berig ʼn plaas in die Molemole-distrik in Limpopo is reeds onder kwarantyn geplaas. Dié plaas is in ʼn voormalige bek-en-klouseervrye sone geleë. Alle produksiefasiliteite, voerkrale en slagpale in die Molemole-distrik en omliggende gebiede word gemonitor.

Van Zyl verduidelik in ʼn verklaring dat hoewel Agri SA die departement se besluit verstaan, die verbod op veilings slegs die probleem op die korte duur gaan oplos. “Ons is bekommerd oor die moontlike bedreiging van die verspreiding van die siekte na ander provinsies wat katastrofies vir Suid-Afrika kan wees. Die opsporing van besmette diere moet dringend gedoen word,” beveel Van Zyl aan.

Die organisasie glo die samewerking van alle betrokkenes, die publieke asook die private sektor, is nodig om dié hoogs aansteeklike kuddesiekte in die kiem te smoor.

Dan Kriek, president van Agri SA, het gesê die bestaande strukture binne georganiseerde landbou, soos die nasionale dieregesondheidsforum (NAHF) en lede van die rooivleisbedryfforum (RMIF), is die beste geposisioneer om die situasie te bestuur. Agri SA versoek die departement om sy pogings met dié van hierdie strukture te kombineer en voldoende hulpbronne toe te ken om die nodige ingrypings uit te voer.

Die organisasie vra ook dat die verbod opgehef word sodra veiligheidsmaatreëls dit toelaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

daniel ·

Ek dink die beste oplossing sal wees as die hele regering , nasionaal sowel as provinsiaal geprivatiseer word.

Johanna Botha ·

Is die probleem nie omdat diere deur die gense kom wat besmet is …buffels ….weet iemand ?

MamieM ·

As een van die grootste landbou organisasies is die reaksie te laat en nutteloos Geen praktiese aksies het die laaste weke gevolg om die situasie te stop (padblokades) of n oplossing te gee vir n verbetering

John ·

Dit is hoe grondhervorming sy eerste tree na grootskaalse verval gee: Die minag van goeie boerdery praktyke. Geheimhouding is vooropgestel… sè ons toordokter en hy is slimmer en magtiger as julle veeartse. Soos in die geval Ebola bo in Afrika word entstowwe met minagting bejeen…. wit nonsens…. Omri gaan nog baie besluite moet verstaan en aanvaar…

Elsje ·

Die Molemole? Is dit dalk Modimolle (vroer Nylstroom) as dit is, asb stel dit reg

JFS ·

Dit is nog gladnie in staatskoerant gepubliseer nie. Daar is slegs mediaverklarings uit. Van wanneer af vervang mediaverklarings die staatskoerant? Hoe penaliseer hul die gewone veilings, maar laat internetveilings toe. Beeste kom dan ook nogsteeds deur die grense. Geen grensdrade is nog werkend nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.