Bek-en-klouseer het boere ‘baie bekommerd’

(Foto: Maroela Media)

Daar heers groot kommer oor die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer naby Potchefstroom in Noordwes – ver buite die algemene endemiese bek-en-klouseergebiede.

Veeartsenykundige beamptes in die aangrensende Noord-Kaap is nou op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas terwyl dié provinsie se departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling reeds noodvergaderings daaroor belê het.

Daar word verwag dat die uitbreking in Noordwes ʼn groot invloed op die handel van lewende hawe en lewendehaweprodukte en eindelik die ekonomie sal hê as dit enigsins ondoeltreffend hanteer word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn voorval van bek-en-klouseer is Dinsdag by ʼn kommersiële stoetery in Noordwes bevestig.

Gerhard Schutte, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, sê dit lyk nou asof die uitbreking moontlik toegeskryf kan word aan die onwettige verskuiwing van beeste uit geraakte gebiede.

Sou dít die geval wees, sal dit as “industriële sabotasie” beskou word en moet daar streng teen die skuldiges opgetree word, sê Schutte.

Dit blyk wel dat die uitbreking gelokaliseerd is. Indien dit reg hanteer word, sal dit vinnig opgelos kan word.

James Faber, voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê die rooivleisbedryf word beskou as die slapende reus binne die landbou met groot potensiaal wat nog ontsluit kan word.

“Een enkele aspek wat dít kan verhoed, is ʼn gebrek aan beheer van dieresiektes en spesifiek bek-en-klouseer.

“Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.

“Die nasionale en provinsiale departement van landbou sal wel ʼn leidende rol hier moet speel,” meen Schutte.

“Die nasionale dieregesondheidsforum doen ʼn beroep op die bedryf om selfregulering toe te pas en die beweging van vee tot die minimum te beperk. Enige nuwe diere wat op ʼn eiendom of plaas ontvang word, moet eers in kwarantyn gehou word. Die tyd is ook nou ryp vir boere om vrywillige naspeurbaarheidstelsels of bestuursprogramme in te stel en plase moet al hoe meer as ʼn kompartement bestuur word.”

Daar heers ook kommer oor die uitbrekings in Limpopo en KwaZulu-Natal wat nog nie in bedwang gebring kon word nie.

Sandy la Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), sê dié provinsie se huidige situasie rakende bek-en-klouseer is uiters kommerwekkend.

Dít aangesien die uitbrekings groot finansiële gevolge inhou wat druk op opkomende en kommersiële boere plaas.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad het geraam dat die laaste bek-en-klouseer-uitbreking in Limpopo die ekonomie R4 miljard gekos het.

“Kommersieel is die gevolge enorm vir die land se bek-en-klouseervrye status en vermoë om uit te voer. Dit plaas ook groot druk op die opkomende sektor, waar mense baie staatmaak op die verkoop van beeste om kos op die tafel te sit, skoolgeld te betaal en te oorleef,” sê Angus Williamson, ondervoorsitter van Kwanalu en voorsitter van die KZN Rooivleisprodusentevereniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jlantie ·

Kopdoek gaan seker gelas dat die beeste maskers dra en dat alle vleis vir hulle braai gehou moet word.
Dit gaan die boere weer geld uit hulle eie sakke jaag om dit te bekamp ,want die regering het ander planne met die geld

huisvanisrael ·

Niemand op hierdie aarde verdien mens se respek meer as ‘n boer nie. Waardeur hulle alles moet gaan om’n bestaan te maak en ander mense te voed is ongelooflik. Ons glo en bid dit sal nie te erg wees nie.

tweeling ·

Ondoeltreffend sal dit beslis hanteer word, hierdie regering kan nie dinge doeltreffend hanteer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.