Bek-en-klouseer: Hof hoor dán boere se saak oor veilings

(Argieffoto)

ʼn Groep boere se aansoek om die regering se verbod op veilings te laat hersien, word Januarie in die hof aangehoor.

Intussen sit kommersiële én opkomende boere toenemend hande in die hare oor die verreikende gevolge wat die verbod op die verkoop van diere landwyd tot gevolg het.

“Ons wil aangaan met ons boerdery,” het Wilhelm Rochér, ʼn beesboer van Swartruggens, Woensdag gesê.

“Dit is Desember en ons kan nie ʼn bees verkoop nie.”

Rochér is deel van ʼn groep van sowat 100 aansoekers, bestaande uit onder meer kommersiële en opkomende boere en afslaers, wat die minister van landbou hof te sleep om die landwye verbod op veilings te laat hersien.

Minister Thoko Didiza het dié besluit vroeg in Desember in die Staatskoerant afgekondig. Die verbod geld alle samekomste van diere, hetsy skoue, veilings, vir byeenkomste vir spekulasiedoeleindes of enige ander byeenkomste. Die verbod is van toepassing op alle lewende gesplete hoefdiere wat na een bestemming geneem word vanaf meer as een plek van oorsprong.

Geen einddatum is egter gegee vir wanneer die verbod opgehef gaan word nie.

“Dit het ekonomies ʼn uiters groot impak op die hele boerderygemeenskap. Dit is ʼn krisis. In saaigebiede moet beeste verkoop word sodat boere kan plant, maar daar is nie meer ʼn fasiliteit om dit te doen nie. Hulle kan nie hul beeste verkoop nie, wat beteken hulle kan nie beplan nie,” het Rochér gesê.

Kleiner boere sukkel selfs al om hul lone te betaal omdat hulle nie beeste kan verkoop nie.

Rochér sê sedert die uitbreking van bek-en-klouseer – dit is die tweede uitbreking vanjaar – het die departement nog geen doeltreffende oplossing vir die probleem gekry nie. “Die staat doen nie sy werk nie,” het hy gesê.

“Produsente móét beskerm word.”

Hy sê die staat moet onder meer verseker daar is ʼn doeltreffende bufferlyn en hy moet sy veeartsenyamptenare bemagtig om hul werk behoorlik te doen. Volgens hom kom diere steeds uit lande soos Namibië en Zimbabwe die land binne.

Andreas Peens, die groep se regsverteenwoordiger, het gesê die minister het tot volgende week om aan te dui of sy die aansoek om hersiening gaan teenstaan.

Hy sê hulle voer aan die besluit op ʼn landwye verbod is onredelik en irrasioneel, onder meer omdat die gebied wat ingesluit word, heeltemal te groot is. Limpopo, waar die uitbreking begin het, kan wél van die verbod uitgesluit word.

Peens sê die tydperk van die verbod – dit is onbepaald – is boonop ook onbillik.

“Hulle moet vir ons ʼn onderneming gee van wanneer daar weer handel gedryf kan word.”

Peens sê hul aansoek om hersiening word na verwagting op 7 Januarie in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Die departement het verlede week aangekondig dat geen verdere voorvalle van die siekte intussen weer aangemeld is nie.

Kenners maan egter as die situasie voortduur, kan veral kleiner en kommunale boere uit desperaatheid hul diere sonder beheer begin verkoop.

  • Bek-en-klouseer is ʼn hoogs aansteeklike virus wat beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoefdiere raak. Die siekte raak mense glad nie en dit is heeltemal veilig om produkte van dié gesplete hoefdiere, soos melk en vleis, te eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Arie ·

Die besluit gaan nie om die siekte te beheer nie dit gaan daaroor om van wit boere ontslae te raak

Daan Erasmus ·

As die regering net kan reël dat ons Eskom rekening kan ophoop tot ons weer kan bemark. Die beeste is daar ek wil verkoop maar ek mag nie.

Piet parys ·

Dis mos makliker vir die anc om veilings stop te sit as om die probleem area te pak en beheer uit te oefen . WANT DIT BETEKEN HULLE MOET WERK .en hulle val nie in daai kategorie nie

Veens ·

Boer maak mos ‘n plan. Die afslaers het vinnig geleer van aan-lyn-veilings, so die verhandeling van diere gaan redelik ongestoord voort. Ook minder moeite en koste, asook minder spanning vir die diere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.