Bek-en-klouseer: Kwarantyn by nóg fasiliteite opgehef

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het Dinsdag aangekondig dat nege van die 19 plase en landboufasiliteite in Limpopo nie meer onder kwarantyn is nie ná die voorkoms van bek-en-klouseer.

Reggie Ngcobo, departementele woordvoerder, het gesê die departement se veeartsenykundige dienste werk onverpoosd om die oorblywende tien fasiliteite ook ‘bek-en-klouseer-vry’ te kry.

Sodra kwarantyn by al dié fasiliteite opgehef is, beplan die departement ʼn algemene toesigstrategie in die gebiede waar die siekte tussen Januarie en November uitgebreek het. Volgens Ngcobo sal die uitslag van hierdie opname die proses bepaal om die internasionale bek-en-klouseer-vrye sone-status te herwin.

Sedert November het 19 fasiliteite in die provinsie positief getoets vir die siekte en is dit by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangemeld. Geen nuwe positiewe gevalle is egter sedert Februarie aangemeld nie.

Maroela Media het vroeër berig die departement kon die uitbreking van die siekte verlede jaar terugspoor na vier veilings wat in September en Oktober by twee verskillende persele in Limpopo plaasgevind het. Teen Mei vanjaar het die departement reeds ʼn hele paar fasiliteite getoets wat moontlik met dié veilings verbind kan word en kwarantyn was reeds by 127 van dié plekke opgehef wat intussen negatief vir bek-en-klouseer getoets het.

Intussen het Botswana die verbod op die invoer van vleis van Suid-Afrika opgehef.

Ngcobo sê bek-en-klouseer se spesifieke invoervoorwaardes sluit in die isolasie van diere vir ten minste 30 dae terwyl hulle voorberei word vir uitvoer onder toesig van ’n veearts. Potensiële uitvoerders word aangeraai om hul plaaslike veearts te kontak om vertroud te raak met die vereistes vir die uitvoer van beeste na Botswana.

Die meeste handelsvennote het die onderhandelde ooreenkomste vir veilige kommoditeite behou. Opgedateerde inligting is aan die veeartsenykundige owerhede verskaf om die versekering te gee oor die voortgesette veilige handel in kommoditeite.

Die departement het ook benadruk dat die vleis van diere wat die siekte opgedoen het, maar daarvan herstel het, veilig is vir mense om te eet. Die verhandeling van vleis tussen provinsies en lande gaan ook reeds voort.

Min. Thoko Didiza het reeds die algehele verbod op veilings en byeenkomste van diere in Februarie opgehef. Die verbod is ingestel om die verspreiding van die siekte te voorkom. Dié verbod is wyd gekritiseer weens die negatiewe uitwerking wat dit op die landboubedryf gehad het.

Die bedryf het in Februarie maatreëls getref wat behoort te geld wanneer veilings in die toekoms gehou word.

Die departement het intussen toestemming gegee dat diere op plase wat positief getoets het vir bek-en-klouseer by nege geïdentifiseerde slagpale van kant gemaak word. Tot dusver is ongeveer 11 000 diere van plase wat aangetas is veilig van kant gemaak. “Wanneer al die diere op die betrokke plase van kant gemaak is, kan die kwarantyn op dié plase ook opgehef word,” sê Ngcobo.

Volgens Ngcobo word veeboere en -handelaars aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref en versigtig te wees om ook uitbrekings van ander aansteeklike siektes by diere te voorkom.

Die departement het ook weer eens ʼn beroep op boere gedoen om nie diere te vervoer indien hulle tekens van die siekte toon of diere wat van ʼn onbekende oorsprong is, te koop nie. Boere moet ook liefs nuwe diere op die plaas eers in afsondering hou totdat boere seker is dié diere is gesond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.