Bek-en-klouseer nou ook in Noordwes

Foto ter illustrasie (Foto: Verskaf)

’n Uitbreking van bek-en-klouseer is in Noordwes – honderde kilometer buite die rooilyngebied – geïdentifiseer.

Dít terwyl die gevreesde veesiekte vandeesmaand weer in die Vhembe-distrik in Limpopo kop uitgesteek het met nóg twee gebiede in KwaZulu-Natal wat nou ook deur die siekte geraak word.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het Dinsdag ’n geval van bek-en-klouseer by ʼn kommersiële stoetery in Noordwes bevestig. Dié beesplaas is na bewering tussen Potchefstroom en Ventersdorp geleë.

“Die provinsiale veeartsenydienste het epidemiologiese ondersoeke gedoen na aanleiding van verslae en ’n positiewe laboratoriumresultaat het die diagnose bevestig,” sê die departement in ’n verklaring.

Die plaas en naburige plase sal nou onder kwarantyn geplaas word terwyl daar verder ondersoek ingestel sal word om die omvang van die uitbreking te bepaal.

Luidens die verklaring is ’n uitbreking ook op twee plekke in Limpopo – tot onlangs nog ’n bek-en-klouseer-vrye gebied – opgemerk. Dié uitbreking raak tans beeste in gemeenskaplike weiveld.

“Een van die twee jongste besmette liggings is in die siektebestuursgebied, wat in Januarie 2019 verklaar is, terwyl die ander een noord daarvan is. Ander plekke in die area met kliniese tekens van bek-en-klouseer word ondersoek.

Die departement sê dié uitbreking is heel waarskynlik te wyte aan die oorspoeling van ʼn uitbreking in die aangrensende bek-en-klouseer-beskermingsone, wat in Maart 2021 opgespoor is. Dít ten spyte daarvan dat die beweging van gesplete hoefdiere in die beskermingsone beperk word, om te verhoed dat hulle na die gebied beweeg waar geen bek-en-klouseer aangeteken is nie.

Die situasie in KZN

Nóg twee gebiede in KwaZulu-Natal word deur bek-en-klouseer geraak. Die een val net buite die siektebestuursgebied in die Mthonjaneni-munisipaliteitsdistrik terwyl die ander een ’n ent suidwes van die siektebestuursgebied in die uMlalazi-munisipaliteit geleë is.

“Nuut besmette diptenks is onder kwarantyn geplaas, en geen gesplete hoefdiere word toegelaat om van hierdie plekke te beweeg nie. Kliniese en serologiese oorsig van die diptenks in die nuut besmette gebied word verskerp om die omvang van die verspreiding te bepaal.”

Die departement doen nou opnuut ’n beroep op boere en ander belanghebbendes om ag te slaan op die bewegingsbeperkings wat tans in die betrokke siektebestuursgebiede in Limpopo en KwaZulu-Natal geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Buks ·

Ons het so 3 maande gelede n vragmotor voorgekeer wat beeste vervoer het van die noorde na ventersdorp omgewing. Ons het rede gehad om te glo hy kom uit bek en klo gebied. Deur vermoedelik korupte amptenare het hy dokumentasie (permitte) gehad en die polisie het dit aanvaar en hy was toegelaat om verder te gaan selfs met 3 dooie beeste op die vragmotor. Ons is deel van die GPF vir eerstbewoon buite Warmbad.

Yvonne ·

Daai klompie beeste wat ooral langs die paaie en strate mag wei….eish wonder maar net hoe gesond is hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.