Bek-en-klouseer ‘onder beheer’ in Limpopo

Foto: Verskaf

Die departement van landbou, bosbou en visserye sê geen nuwe voorvalle van bek-en-klouseer is die afgelope bykans twee maande in Limpopo aangemeld nie, maar hy doen steeds stappe om te verseker die siekte versprei nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in Januarie Limpopo se bek-en-klouseervrye status opgeskort nadat die siekte daar uitgebreek het. Die departement het gesê monsters is van alle diptenks en drukgange in die siektebestuursgebied geneem en word by Onderstepoort ontleed.

Meer as 13 000 diere in die sone sou teen die einde van die maand al twee keer teen die siekte ingeënt word. Maatreëls om verskuiwings te beheer geld steeds en geen diere mag in of uit die siektebestuursarea beweeg sonder dat ʼn veearts dit goedkeur nie, het die departement gesê.

Geen geprosesseerde produkte van hoefdiere mag uit die gebied geneem word nie en padblokkades word opgestel en patrollies gedoen om te verseker die maatreëls word gehoorsaam.

Die departement het gesê hy gaan voor die einde van April vra dat ʼn siektevryesone verklaar word.  Indien dit suksesvol is, kan die WGO die res van die land weer as vry van die siekte verklaar.

Die herinstelling van die status het groot gevolge vir die veilige handel in produkte soos vark- en beesvleis wat voor 5 Desember verlede jaar geslag is, sowel as diervelle en huide, gelatien en kollageen, sowel as wol.

Suid-Afrika voer vleis en vleisprodukte uit na lande soos Bahrein, Lesotho, Egipte, Mosambiek, Eswatini, Seychelle, Namibië en Katar. Die departement het gesê die verklaring van ʼn siektevryesone gaan help om handel met dié en ander lande weer te hervat.

Die markte vir suiwelprodukte is reeds grootliks herstel.

“Die uitbreking is onder beheer, maar dit beteken nie die kwessie is opgelos en dat geen verdere stappe gedoen gaan word nie. Dit is baie belangrik dat almal wat saamgewerk het om die suksesse tot dusver te behaal, dit steeds doen om die uitbreking so vinnig as moontlik op te klaar,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.