Bek-en-klouseer: Oorsprong van uitbreking geïdentifiseer

(Argieffoto: pixabay)

Talle plase en landboufasiliteite in Limpopo is nog onder kwarantyn nadat hulle vroeër vanjaar positief getoets het vir bek-en-klouseer. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het Dinsdag aangekondig dat hy die uitbreek van dié siekte verlede jaar kon terugspoor na vier veilings wat in September en Oktober by twee verskillende persele in Limpopo plaasgevind het.

“Die departement het reeds ʼn hele paar fasiliteite getoets wat moontlik met dié veilings verbind kan word en kwarantyn is reeds opgehef by 127 van dié plekke wat intussen negatief vir bek-en-klouseer getoets het,” sê die departement.

Sedert November het 19 fasiliteite positief getoets vir die siekte en is dit by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangemeld. Geen nuwe positiewe gevalle is egter sedert Februarie aangemeld nie. Volgens die departement is 16 van dié plekke steeds onder kwarantyn.

Min. Thoko Didiza het reeds die algehele verbod op veilings en byeenkomste van diere in Februarie gelig. Die verbod is ingestel om die verspreiding van die siekte te voorkom. Dié verbod is wyd gekritiseer weens die negatiewe uitwerking wat dit op die landboubedryf gehad het.

Maroela Media het reeds berig die bedryf het in samewerking met die Rooivleisprodusente-organisasie maatreëls daargestel wat behoort te geld wanneer veilings in die toekoms gehou word.

Die departement het intussen toestemming gegee dat diere op plase wat positief getoets het vir bek-en-klouseer by agt geïdentifiseerde slagpale van kant gemaak word. “Tot dusver is ongeveer 9 000 diere van aangetaste plase veilig van kant gemaak. Wanneer al die diere op die betrokke plase van kant gemaak is, kan die kwarantyn op dié plase ook gelig word,” sê die departement.

Die departement het ook benadruk dat die vleis van diere wat die siekte opgedoen het, maar daarvan herstel het, veilig is vir mense om te eet. Die verhandeling van vleis tussen provinsies en lande gaan ook reeds voort.

Die departement het weer ʼn beroep op boere gedoen om nie diere te vervoer indien hulle tekens van die siekte toon of diere wat van ʼn onbekende oorsprong is, te koop nie. Boere moet ook liefs nuwe diere op die plaas eers in afsondering hou totdat boere seker is dié diere is gesond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois

Dit gaan baie meer gebeur as die regering toelaat dat agtergeblewe comrade boere hulle vee vandisies toe neem sonder dst hulle behoorlik getoets word. Dit word net van wit boere vereis

Kanjynoumeer

Die vraag is nou, gaan daar voorkomende maatrëels ingestel word?