Bek-en-klouseer: Ophef van veilingverbod verwelkom

(Argieffoto)

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het die ophef van die verbod op veeveilings en -skoue verwelkom.

Die minister van landbou, Thoko Didiza, het Maandag die verbod opgehef wat in Desember weens nóg ʼn uitbreking van bek-en-klouseer ingestel is, maar dit aan uiters streng voorwaardes gekoppel.

“Die RPO het baie hard saam met die departement en die bedryf gewerk om dit te bewerkstellig,” het Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, gesê.

“Dit was ʼn uiters drastiese maatreël wat ʼn geweldige negatiewe uitwerking op produsente en die bedryf gehad het. Dit het egter ook vrugte afgewerp in die sin dat Suid-Afrika se belangrikste uitvoermarkte ten spyte van die verlies van sy status as bek-en-klouseer-vrye sone weer geopen is. Die opening van die Chinese handel is ʼn uiters relevante voorbeeld hiervan.”

Van der Ryst het gesê die RPO verwelkom ook die feit dat veilingsagente nou by die landbouprodukte-agenteraad (APAC) moet registreer.

“Selfregulering in die rooivleisbedryf het nou van kritieke belang geword indien ons die rooivleisbedryf en markte wil beskerm en elke produsent in die land moet ons hiermee help.”

Volgens Van der Ryst sluit dit die daarstel van ’n vrywillige naspeurbaarheidstelsel in wat deur die bedryf in oorleg met LITS SA geïmplementeer sal word.

Die bedryf het reeds in samewerking met die RPO maatreëls daargestel wat behoort te geld wanneer veilings in die toekoms gehou word. Hierdie maatreëls sal eersdaags aangekondig word en met verloop van tyd deur die registrateur van landbouprodukte-agenteraad geïmplementeer word.

“Dit is ook noodsaaklik dat beheermaatreëls vir bek-en-klouseer opgeskerp moet word in die drie provinsies wat as buffersones vir die bekamping van bek-en-klouseer dien.”

Die geaffekteerde fasiliteite waar uitbrekings voorgekom het, moet volgens Van der Ryst nou doeltreffend bestuur word ten einde die probleem op te los.

“Ons het almal lesse geleer uit dit wat nou gebeur het. Produsente sal in die toekoms self baie meer verantwoordelikheid moet aanvaar om beheerde en oordraagbare siektes op hul plase te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.