Bek-en-klouseer-uitbreking in Limpopo verby

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Sedert Februarie is geen nuwe voorvalle van bek-en-klouseer aangemeld nie en die departement van landbou, bosbou en visserye het Dinsdag verklaar dat die uitbreking amptelik onder beheer is.

Volgens die departement het drie inkubasietydperke ook sedertdien verstryk.

Bek-en-klouseer het in Januarie vanjaar in die Vhembe‑distrik in Limpopo uitgebreek. Die land was gevolglik sy bek-en-klouseervrye status kwyt.

“Ons kan nie nou op ons louere rus nie, maar moet waaksaam bly en deurlopend soek na maniere om biosekuriteit en maatreëls te verbeter om ons mense en diere teen die verspreiding van die siekte te beskerm,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Intensiewe waarneming het gewys die virus is nie meer in omloop nie, maar beheermaatreëls geld steeds. Die boerderygemeenskap en publiek is ook gevra om op hulle hoede te bly.

Die minister van landbou, Senzeni Zokwana, het in April ʼn hoëvlakafvaardiging na geraakte gemeenskappe in Limpopo gelei om sy diepe waardering aan boere en alle ander rolspelers te betuig wat saam met die departement gewerk het om die uitbreking in bedwang te bring en die probleem op te los.

Die departement het reeds ʼn dokument aan die wêreldorganisasie vir dieregesondheid (OIE) voorgelê waarin hy aansoek doen dat die gebied waarin bek-en-klouseer vroeër uitgebreek het, tot beperkingsone verklaar word.

“Die departement hoop vir ʼn positiewe uitslag op sy aansoek in die nabye toekoms.”

Die departement het gesê hy het reeds weer marktoegang vir veilige kommoditeite begin beding.

Die mees onlangse mylpaal was China wat ʼn verbod op wolinvoer uit Suid-Afrika opgehef het. Onderhandelings om beesvleis na China uit te voer duur voort en die departement het gesê hy is besig om datums te bevestig vir nog ʼn inspeksie van die Chinese veeartsenyowerheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.