Bekende Afrikaanse kerkfiguur oorlede

Ds. Henno Cronjé (Foto: Verskaf)

Ds. Henno Cronjé (Foto: Verskaf)

Die bekende Afrikaanse kerkfiguur en skrywer ds. Hendrik Cronjé is Dinsdagaand ná ʼn kort siekbed in die ouderdom van 86 oorlede.

Cronjé, wat as Henno bekend was, het boeke soos Dit het die lewe my geleer die lig laat sien. Hy was ook ʼn gereelde rubriekskrywer vir Beeld en Rapport.

Cronjé, ʼn vlagdraer vir die NG Kerk, het nadat hy ʼn meestersgraad onder leiding van NP Van Wyk Louw verwerf het en daarna ʼn ThM-graad aan die Union Theological Seminary aan die Universiteit van Columbia in New York, ʼn beroep as leraar in die NG Kerk aanvaar.

Hy is in 1977 aangestel as direkteur van inligting van die NG Kerk vir die eertydse Transvaal en Natal en ook vir Zimbabwe en Suidwes-Afrika en het in 1991 die uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geword.

“Vir hom het die mens saak gemaak en hy het die genade ontvang om die humor in elke situasie te herken en daarmee saam die vermoë om meer lief te hê,” het die FAK in ʼn verklaring gesê. “Hy het vir boere, studente én professionele mense gepreek en was ewe geliefd onder almal.

“Vir Henno Cronjé was ’n taal die siel van ’n gemeenskap en die Afrikaanse taal in sy verskeidenheid van gebruikers was hierin onmisbaar. Sy nalatenskap en dié van sy tydgenote het bygedra tot die bloei van die Afrikaanse taal en kultuur.”

Hy laat sy vrou, Charmara, vyf kinders, 14 kleinkinders en sewe agterkleinkinders agter.

ʼn Huldigingsdiens word op 18 Maart om 10:30 vanuit die NG Kerk Waterkloof gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries Theunissen ·

Ek het die vooreg gehad om Heno jare gelede in Birmingham Engeland te ontmoet. Hy was die hoofspreker by ‘n geleentheid van Protestantse Christene wat nie met die moderne leerstelling van die kerke hier wou saamstem nie maar het gesoek na die “Ou Paaie om daarop te wandel”.
My innige simpatie met Mevrou Cronje’ en ander familielede. U het die troos dat hy nou by ons Hemelse Vader is. Prys die Heer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.