Bekende beeldhouer Phil Minnaar oorlede

Phil Minnaar

Phil Minnaar

Die bekende Pretoriase beeldhouer Phil Minnaar is Sondag in die ouderdom van 67 oorlede.

Minnaar se vrou, Ria, het Maandagaand aan Maroela Media gesê haar man is omstreeks 16:00 Sondagmiddag oorlede. Minnaar het by die egpaar se huis in Olympus, oos van Pretoria, aangesterk nadat hy op 1 Maart ʼn groot operasie aan sy dikderm ondergaan het. “Daar was komplikasies met sy hartritme en sy suiker. Ek het Sondag gesien hy lyk nie goed nie en het die ambulans ontbied. Hy is met hulle aankoms dood verklaar.”

Minnaar sê haar man was nie net ʼn talentvolle beeldhouer nie maar het ʼn fantastiese persoonlikheid gehad. “As daar gelag is, was hy daar. Hy het ʼn wonderlike sin vir humor gehad.” Sy sê Minnaar het baie in die heelal en geskiedenis belanggestel. “Hy het altyd gesê dat as mens na die grootheid van die heelal kyk dan weet mens daar is ʼn Here. Dit kan nie net wees nie.” Begrafnisreëlings is nog nie bevestig nie.

Minnaar was langer as 40 jaar ʼn beeldhouer. Hy het onderwys geswot en vir 14 jaar skoolgehou. Hy het nooit amptelike beeldhou-opleiding gehad nie. Minnaar het meer as 170 borsbeelde en 90 monumente gemaak. Sy werke sluit onder andere bronsafbeeldings van oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk in.

Minnaar se ander beelde sluit die dierefontein by Sun City, die Blou Bul-bronsbeeld by Loftus Versfeld, die gewonde soldaat-bronsbeeld by 1 Millitêre-hospitaal en Die Agterryer-beeld by die Oorlogsmuseum in. Laasgenoemde was Minnaar se laaste groot projek. Die bronsuitbeeldings van die drie grondleggers van die wildtuin in die Skukuza-kamp en ’n bronsbeeld van ’n olifant in die Letaba-ruskamp was ook sy handewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ria M ·

“Hy het altyd gesê dat as mens na die grootheid van die heelal kyk dan weet mens daar is ʼn Here.”

Absoluut. Geen twyfel daaroor nie.

RIV

Anton ·

Juffrou Minnaar het vir my skool gegee by Derdepoort jare gelede, Jammer vir juf se verlies, alle sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.