Bekende Bloemfonteiner sterf genadedood: ‘Ek is nie bang nie’

Johann Beukes. Foto: Verskaf

Johann Beukes. Foto: Verskaf

Johann Beukes, ʼn bekende sakeman, argitek en reisagent van Bloemfontein, se lewe is Maandag in ʼn kliniek in Zürich, Switserland, met behulp van ʼn genadedood-organisasie beëindig. Hy was 66 jaar oud.

Albé Grobbelaar, ʼn getroue vriend van Beukes en woordvoerder van die gesin, het die nuus aan Maroela Media bevestig. “Johann het met die hulp van die Switserse Dignitas-organisasie sy lewe beëindig,” het hy gesê.

“Dignitas verleen onder streng voorwaardes hulp aan mense om genade-selfdood toe te pas. Hierdie hulp is onderhewig aan ʼn breedvoerige keuringsproses en is gerig op persone wat aan ʼn terminale siekte of erge fisieke gebreke met gepaardgaande pyn ly.”

Beukes het aan ʼn seldsame siekte gely wat veroorsaak het dat die kraakbeen tussen sy gewrigte teen ʼn onvoorspelbare tempo verweer. Grobbelaar het verduidelik dat Beukes sedert sy kinderdae meer as 30 operasies ondergaan het, wat verskeie ingrypende rugoperasies ingesluit het. “Hy het op 31-jarige ouderdom reeds bi-laterale heupvervangings, gevolg deur skouer-, enkel- en handgewrig-vervangings gehad. Hy was toenemend in voortdurende pyn wat nie met medikasie beheer kon word nie,” het hy gesê.

Beukes het in die vroeë 90’s sy loopbaan as argitek laat vaar weens sy siektetoestand. Hy het toe die bekende Etnique-reisagentskap begin, wat later Sure Etnique Travel geword het en waarvan hy die uitvoerende hoof was. Hy was ook bekend vir sy gereelde bydraes op RSG tydens ʼn weeklikse reisprogram elke Saterdagoggend.

Grobbelaar het twee weke voor Beukes se dood ʼn openhartige onderhoud met hom gevoer waarin hy hom gevra het of hy bang is vir die dood. “Ek het geen vrees vir die dood nie,” het hy geantwoord. “Ek glo dis ʼn voorreg vir elkeen wat glo. Ek is innig en opreg dankbaar as ek terugkyk op die afgelope 45 jaar dat ek so ʼn wonderlike, geseënde en vervullende loopbaan en lewe gehad het.”

Beukes laat sy vrou, Monique, drie kinders, Johard, Leandi en Izanne, asook drie kleinkinders agter.

Lees die volledige onderhoud met Beukes hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jo-anli ·

RIV daai pyn is nie kinderspeletjies verstaan presies. Sterkte aan gesin

E.K. ·

Dis duidelik dat die arme man vir jare moes ly. Ek gun hom sy rus. Sterkte aan die vriende en familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.