Bekende boer dán gegroet

Louis en sy vrou Jeanine. Foto: Facebook

ʼn Gedenkdiens word Donderdag gehou vir Louis Hendrik Claassen (39) wat die naweek in ʼn motorongeluk dood is.

Jacques Beukes, Claassen se swaer, het gesê die gedenkdiens vind om 11:00 vanuit die River of Life Family Church in Vanderbijlpark plaas.

Maroela Media het vroeër berig Claassen is Saterdagaand in ʼn motorongeluk in die Vrystaat dood. Claassen en sy 11-jarige seun, Edwin, was op pad na hul huis op die familieplaas Kronenbloem toe hulle net buite Wolwehoek teen ʼn motor waarvan die ligte glo nie aangeskakel was nie gebots het.

Claassen se Land Cruiser het gerol en hy is uit die voertuig geslinger. Hy is op die toneel dood. Edwin was vasgegordel, maar het vermoedelik sy bewussyn verloor.

Hy het sy ma gebel nadat hy weer bygekom het en vir haar gesê hulle was in ʼn ongeluk. Claassen se skoonpa, Flip Muller, het hom na die toneel gehaas. Edwin is na ʼn hospitaal in Vanderbijlpark opgeneem.

“Ek het lanklaas iemand ontmoet wat sulke diep spore in mense se lewens getrap het,” het Beukes oor sy swaer gesê.

Volgens Beukes was Claassen welbekend in landboukringe en was hy self by verskeie aspekte van boerdery en die wild- en jagbedryf betrokke. “Hy was baie lief vir jag. Hy was ʼn baie reguit en baie eerlike ou en het oral gehelp.

“As iemand nie meer daar is nie, dan hoor jy eers waar hy oral gehelp het en hoe hy die gemeenskap beïnvloed het. Hy het ʼn invloed in so baie mense se lewens gehad. Vriende in die boeregemeenskap het ons gebel en gesê hy was ʼn legende.”

Beukes het sy swaer as ʼn “yster” beskryf. “Hy het so baie vir landbou in Suid-Afrika beteken en hy was vir almal lief.” Claassen was onder meer ʼn saaiboer en ook ʼn bekende in die voerkraalbedryf.

Behalwe vir sy seun laat Claassen ook sy vrou, Jeanine, sy ouers, Edwin sr. en Heleen, en sy vier susters agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gesiggie ·

My Innige simpatie aan die Familie en geliefdes van Louis, n mens kan sien dat hy n liefdevolle persoon was, en soos sy swaer hom beskryf n Yster…en waar woorde dat n mens altyd wanneer ons n geliefde verloor praat oor waste goeie mens hul was,,,, die lewe is so kort en daarom moet ons elke dag vir ons geliefdes vertel hoe lief ons hul het, en hoe baie hul vir ons beteken, Sterkte aan Edwin mag jy gou gesond word, jy was n ware held deur Mamma te bel … kan net dink wat jy moes deur maak. Mag God jul vertroos en dra in die tyd van hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.