Bekende Buffelsfontein Baardolieman se brawe uitdaging

Meyer le Roux (Foto: Buffelsfontein Baard-olie)

Meyer le Roux, medestigter van Buffelsfontein Baard-olie, is bereid om van sy welige baard ontslae te raak – as die publiek hand in die sak sal steek.

Meyer het tydens ʼn onderhoud op die gemeenskapsradiostasie Pretoria FM onderneem om sy baard af te skeer ten bate van Helpende Hand se kosblikkieprojek – as R250 000 vir dié projek ingesamel word teen Vrydag, 6 April.

Hy het aan Maroela Media gesê hy kweek al twee jaar lank aan sy welige baard en meen dit sal “baie vreemd” voel om van die baard ontslae te raak. “Gelukkig kan ek darem onmiddellik weer daaraan begin kweek!”

Meyer werk al baie lank saam met Helpende Hand en sê hy weet watter groot verskil R250 000 in behoeftige kinders se lewens kan maak. “As ons daai doel bereik, dan kan die mense van Pretoria FM my maar kaal skeer.”

Hy reken die lekkerste van só ʼn welige baard is die afwesigheid van ʼn dubbelken!

“Ek was al by baie skole waar die kosblikkeprojek ingestel is. Dit breek my hart om te weet dat daardie kinders in die vakansietyd baie gewig verloor omdat hulle nie ordentlike voeding by die huis kry nie. By 8% van die kleuterskole is die kosblikkieprojek die enigste kos wat die kinders heel dag kry. Hulle gee selfs vir die kinders kos saam huis toe in die middag, omdat daar niks by die huis te eet is nie. Ek voel dit is my plig as Afrikaner om hierdie kinders te help.”

Buffelsfontein Baard-olie is bekend vir sy tong-in-die-kies bemarkingsveldtogte en verskaf produkte wat spesifiek op mans gerig is. “Ons olie sal jou baard so majestueus laat lyk, dat leeus in die wildtuin sal ween van jaloesie.”

Helpende Hand se kosblikkieprojek verskaf daagliks kos vir meer as 5 000 kleuters. Die Kosblikkie-projek is meer as net ʼn voedingsprojek. Dit is ʼn poging om kinders so te bemagtig dat hulle nooit in armoede sal verval nie.

SMS die woord “bord” na 39950 (SMS’e kos R2 elk) om aan te sluit.
Jy kan ook die woord “bord” na 38969 stuur om dadelik R10 by te dra tot ’n gesonde bord kos vir ’n behoeftige kleuter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sophia ·

Ek is self n arm vrou wat ń kind gtoot maak maar kan die ryk gemeenskap nie maar n bydra maak sonder dat hy sy baard moet afskeer nie? Wat gaan R100 aan iemand doen wat R30000 ń maand verdien? Gee een dag nie vir jou kind snoepie geld nie en julle het sommer gou gou die bedrag bymekaar.

E.K. die eerste ·

Dankie vir die sms nommer – die heel maklikste en vinnigste manier om R10 by te dra! Enigeen met ‘n selfoon kan help en as almal wat Maroela lees dit doen gaan arme Baardman maar die skeermens moet nadertrek!

jy ·

hoeveel can daardie R10 sal heloende hand dan uiteindelik kry?

DBJeep ·

Sorry my baard bly, ek weet hoe dit moet voel om jou baard te verloor. Ek gee liewers R200 laat hy hom nie afskeer nie.

p ·

Dit is n goeie doel maar weet julle hoeveel mense word misgekyk wat daardie kossies brood nodig het. Die meeste kerke en welsyns wys mense weg agv , ons gee klaar vir ander groepe. Weet net daar is mense wat kos broodnodig het wat nie by julle ingesluit is nie.

jaco ·

ek was eendag by n aksie van Helpende Hand betrokke. vrywilligers het gehelp om ‘n wendy house in ‘n wit plakkerskamp op te rig. armoede gedy oral. maar n paar goed het my tog gepla; veral die volgende:
1. net die vrouens het ons gehelp. die mans wat daar bly het net staan en kyk.
2. AL die volwassenes wat ek daar gesien het, het gerook. Drankbottels was ook sigbaar in ELKE plakkershuisie.
As hulle sulke goed kan bekostig, kry hulle dan regtig so swaar? Ek weet goed soos regstellende aksie en klomp ander dinge buite hulle beheer het hulle in n plakkerskamp laat beland, maar is hulle uitgawe op absoluut onnodige goed soos alkoholiese drank en sigarette regtig nodig? Ek voel dan dat enige hulp wat ek hulle gee, maar net weer op verkeerde goed uitgegee gaan word.

Charmain ·

Jaco, ek het dieselfde indruk gekry, MAAR hoe is dit die kinders se skuld? Die kosblikprojek bevoordeel die kinders direk.

Andrea ·

Ja, Jaco, was my ervaring ook. En nog baie erger goed ook gehoor.
Daarom gee ek eerder vir die kindertjies dat hul hopelik eendag uit daai omstandighede kan losbreek.

E.K. die eerste ·

Ag MAROELA – kan jul asb mense soos “jy” verseker hoeveel Helpende Hand kry? Ai…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.