Bekende drawwer sterf in tref-en-trap

Nezaam Isaacs. Foto: Facebook.

ʼn Bekende Kaapstadse drawwer is in die vroeë oggendure dood ná ʼn tref-en-trap-ongeluk in Belvedere-weg in Claremont.

Richard Coleman, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se verkeersdienste, het gesê die pad was ná die voorval gesluit vir verkeer, maar is intussen weer oopgestel.

Farouk Meyer, woordvoerder vir die Itheko-hardloopklub waaraan Nezaam Isaacs (47) behoort het, het aan Maroela Media gesê hulle is uiters geskok en hartseer oor die voorval. “Die beste wat ons nou kan doen, is om die familie te ondersteun,” het Meyer gesê.

Meyer verduidelik die voorval het omstreeks 04:30 plaasgevind. “Hy het juis so vroeg gaan hardloop omdat hy in die vasmaand van Ramadaan is. Hy hardloop dan so vroeg sodat hy nog ietsie kan eet en sy fiksheid kan behou,” het Meyer verduidelik.

Meyer het gesê Isaacs het sowat tien jaar terug by die klub aangesluit en het destyds 135 kg geweeg. “Ten tyde van sy dood het hy sowat 85 kg geweeg. Hy was werklik ʼn leier en ʼn rolmodel vir die klub, maar ook vir die breër hardloopgemeenskap.”

“Omdat hy ’n Moslem is, moet die begrafnis binne 24 uur plaasvind. Ek en sy een broer was pas by die lykshuis om hom uit te ken en die nadoodse ondersoek word nou gedoen,” het Meyer gesê. Die begrafnis sal na verwagting laat vanmiddag plaasvind.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die voorval word ondersoek. “Die bestuurder van die voertuig het van die toneel gevlug,” het Traut gesê. ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het enige iemand met inligting gevra om lt.kol. Michael Benn by 082 469 2525 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magda ·

Ai dis so tragies- Sterkte aan sy Familie en hoop die skuldige word baie gou gevang.

Ai ·

Sjoe dis tragies. Sterkte aan sy familie. Hoop hulle kry die persoon wat hom raak gery het.

Liza ·

Liewe genade, hoe kan die drywer nie kyk nie, is hy dan blind…..onskuldig gaan draf hy en word so dood gery…….Sterkte aan die familie……..

Chris ·

Gedurende my skooljare is ons ingedril dat jy aan die regterkant van n pad loop, draf of fietsry. Sodoende kan jy aankomende verkeer dophou en kan padgee as dit gevaarlik is. My nekhare staan behoorlik regop as ek sien hoe groot trokke en goed by fietsryers, wat links op die pad ry, verby skuur op paaie. Jy neem jou lewe in jou hande want jy kan nie sien wat agter jou gebeur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.