Bekende druiweboer sterf ná motorfietsongeluk

Michael Laubscher. Foto: Facebook.

Michael Laubscher (40), ʼn bekende tafeldruiweboer van die Hexrivier-streek, is Maandagaand dood ná ʼn ernstige motorfietsongeluk sowat twee weke gelede.

Laubscher was ook die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (SATI) en het naby De Doorns geboer.

SATI skryf in ʼn verklaring dat hy met groot hartseer Laubscher se afsterwe bekend maak.

“Na ’n ernstige motorfietsongeluk net meer as twee weke gelede en ’n dapper geveg om die lewe het hy gisteraand (26 Maart) in ’n Paarlse hospitaal aan die komplikasies en beserings gesterf,” lui die verklaring.

Volgens SATI sal Laubscher onthou word as ’n bedryfsleier, produsent en kollega wat altyd die belange van die bedryf en sy medemens eerste gestel het.

Hy was sedert Mei 2014 die voorsitter van SATI en is in 2015 aangestel as die uitvoerende hoof van Exsa, spesialiskwekers en uitvoerders van vrugte, hoofsaaklik druiwe.

Laubscher was ook ʼn kranige rugbyspeler en het volgens SupaRugby se Facebook-blad in 2000 en 2001vir Transvaal gespeel.

Laubscher word oorleef deur sy vrou Jana, en hul vier kinders.

“Ons wens sy gesin, familielede, kollegas en vriende alle sterkte toe tydens hierdie moeilike tyd. Ons vra dat julle by ons aansluit om sy gesin en familie in jul gebede te hou,” lui SATI se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lysa ·

Rus in vrede… baie sterkte aan sy gesin en familie, hy was’n besondere mens…

Hannelie ·

Ai dis so verskriklik hartseer, Michael jy was nog so jonk. Baie sterkte aan Jana en jul vier klein kindertjies, mag Jesus jul vashou en vertroos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.