Bekende eiendomsagentskap ondersoek oor beweerde ongerymdhede

(Foto: pixabay)

Die Raad vir Eiendomsagentskapsaangeleenthede (EAAB) sê hy het met ʼn omvattende ondersoek na een van die land se top-eiendomsagentskappe begin ná bewering dat die agentskap finansiële regulatoriese wetgewing oortree het.

“Polities kwesbare mense” was glo betrokke, het die raad Sondag gesê.

Pam Golding-eiendomme gaan ondersoek word weens bewerings dat hy glo die verkoop van eiendom aan die kinders van die Mosambiekse oudpresident, Armando Guebuza, gefasiliteer het, sónder dat die wetlike vereistes gevolg is en dus “na bewering met geldwassery gehelp het”, het die EAAB gesê.

Die twee eiendomme betrokke, een in Dainfern en die ander in die Kyalami-landgoed, noord van Johannesburg, is glo gesamentlik sowat R50 miljoen werd.

Vir die eerste keer gaan die raad ʼn ondersoek in samewerking met die Finansiële Intelligensiesentrum doen. Die bewerings is vroeër vandeesmaand in ʼn berig in die Mail & Guardian onthul.

“Na bewering het voormalige politieke leiers en hul gesinne geld gewas deur groot bedrae onwettige geld in eiendom in Suid-Afrika te belê, wat gelei het tot die kunsmatige styging van eiendomspryse en skeefgetrekte markwaardes,” het die EAAB in ʼn verklaring gesê.

Mamodupi , uitvoerende hoof van die EAAB, het gesê die bewerings is uiters ernstig en senior amptenare van die reguleerder sal die ondersoek lei.

“Toepassing en voldoening vorm die middelpunt van ons mandaat as reguleerder. Ons moet dus verseker daar is behoorlike voldoening, ongeag hoe groot of klein ʼn lisensiehouer is. Ons vereis volkome nakoming in die belang van die publiek en verbruikers se beskerming,” het Mohlala gesê.

Die EAAB gaan binnekort met die Finansiële Intelligensiesentrum vergader om die omvang van die ondersoek te finaliseer.

Die ondersoek na Pam Golding-eiendomme sal onder meer vasstel of die identiteit van ʼn kliënt behoorlik vasgestel is, bepalings oor oorgrens-oorbetalings nagekom is, asook of daar by die kontantdrempel gehou is.

Volgens Mohlala sal ondersoekers sommige kantore van Pam Golding-eiendomme besoek en toegang tot sekere dokumente vra. Sou bewyse van enige ongerymdhede gevind word, kan die agentskap hom voor ʼn tugkomitee van die EAAB bevind. Tugoptrede kan ʼn beduidende boete insluit.

“Ons gaan die ondersoek bespoedig en vra dat alle betrokke partye hul samewerking gee. Die bewerings teen Pam Golding is uiters ernstig en kommerwekkend.

“Ons is bewus daarvan dat die eiendomsmark ʼn bron van welvaartskepping is. Ons sê egter dat welvaart wettig en ingevolge reëls en beleid gedoen moet word,” het Mohlala gesê.

Volgens haar is Pam Golding-eiendomme wel een van die grootste rolspelers in die bedryf, maar niemand is bo die reg verhewe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Sterkte. Ek het ook ‘n saak aangemeld by die Waardeerdersvereniging. Na bykans 2-jaar is al wat ek weet dat my saak gronde het vir optrede teen die waardeerder. In die tussentyd gaan hy voort soos hy lus het. Onvolhoubare samelewing.

SomeOne ·

wat sal oorlede pam se van haar besigheid wat nou ondersoek word vir geld wassery ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.