Bekende in Kaapse onderwêreld, ma in hof

Foto: pixabay

Nafiz Modack (36), ʼn vermeende Kaapse onderwêreldbaas, en sy ma, Ruwaida Modack (60), het Dinsdagmiddag vlugtig in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van korrupsie.

Hulle is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het gesê die twee het hulle vanoggend by die Valke se kantoor in Kaapstad, na ʼn láng ondersoek na hul beweerde korrupte verhouding met ʼn voormalige senior polisiebeampte, vrywillig aan die polisie oorgegee.

Modack en sy ma het glo ʼn voormalige senior polisielid in November 2011, deur twee sake-eenhede, omkoopgeld betaal om hul sakebelange te help bevorder, het Nkwalase gesê.

“Die ondersoek vorm deel van die tweede gedeelte van ʼn ondersoek wat reeds tot die vonnis van senior polisiebeamptes in die Wes-Kaap – op verskeie aanklagte van korrupsie – gelei het.”

Die saak teen hulle is uitgestel tot 16 Mei, wanneer nog ʼn verdagte, ʼn voormalige polisielid, ook by die saak gevoeg gaan word, het Nkwalase gesê.

Bewerings dat Modack noue bande het met senior polisiebeamptes in intelligensie-eenhede, en selfs dat hy ʼn polisie-informant is, doen al ʼn geruime tyd die ronde.

Modack is ook die beskuldigde in ʼn ander saak, waar hy en sy medebeskuldigdes tereg staan op ʼn aanklag van afpersing. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die eienaars of bestuurders van ʼn kuierplek in Kaapstad afgepers het om sogenaamde veiligheidsdienste aan die kuierplek te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ko ·

wat van al die ander soos advocates ens….
wat hulself voorgee as LAW in SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.