Bekende in vermaaklikheidskringe in huis aangeval, beroof

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Bekende in vermaaklikheidskringe is die naweek saam met sy gesin in hul huis aan die Oos-Rand deur vyf gewapende mans aangeval en beroof.

Frans Swart, ʼn teaterman, regisseur, skrywer en uitvoerende hoof van Lefra Produksies, sy vrou, Hannelie, seun, Frans-Hendrik (17), en bemarkingsbestuurder, Charl Senekal (38), is Vrydagaand by die huis, waar Swart se kantoor ook is, in Casseldale in Springs oorval en erg aangerand.

Frans Swart, uitvoerende hoof van Lefra Produksies. Foto: Verskaf

Frans Swart, uitvoerende hoof van Lefra Produksies. Foto: Verskaf

Volgens Swart was hy Vrydag omstreeks 18:00 by die huis ná ʼn vergadering met sy advokaat. Hy het Maandag gesê hy het ʼn bietjie in die huis ontspan en vir sy vrou gesê hy moet gou ʼn paar e-posse in sy kantoor gaan stuur. Hannelie was besig om aandete voor te berei en het vir Swart gesê dat hulle binnekort sou eet.

“Ek het net op my rekenaar begin werk toe ek die volgende oomblik drie swart gewapende mans voor my sien staan. Vir ʼn oomblik het ek nie besef wat aangaan nie. Dit het so onwerklik gevoel dat ek amper gedink het dis ʼn grap,” het Swart gesê.

“Hulle het my vreeslik begin slaan en skop en beveel om op die grond te lê met my gesig na onder.  Ek het erg gebloei en kon nie asem kry deur die bloed nie. Elke keer dat ek probeer het om te draai om asem te haal, het hulle my op my kop geskop.”

Die verdagtes het Swart gevra waar sy kluis is en hy het vir hulle gesê.

Hannelie het intussen uit die huis gekom om haar man te roep om te gaan eet. “Toe hulle haar sien, het hulle haar gegryp en by my in die kantoor kom neergooi.”

Frans-Hendrik het hul honde hoor blaf en gaan ondersoek instel. “Toe hulle hom sien, het hulle hom ook gegryp en ook vreeslik geslaan en geskop. Intussen het die rowers veral elektroniese toerusting soos rekenaars, kameras en juwele begin buit. Terwyl drie van hulle die goed ingepak het, het die ander twee ons aanhoudend geskop en geslaan.”

Volgens Swart sou hy en Senekal ʼn vergadering gehad het. Hy het die hele tyd gevrees dat Senekal op die toneel sou afkom.

“Die volgende oomblik het die verdagtes ligte by die veiligheidshek gesien en op ons geskree en gevra wie dit was. Ek het kalm geantwoord dat dit my bemarkingsbestuurder is en dat ons ʼn vergadering het. Terwyl Charl ingestap het, het een hom oorval en ʼn pistool teen sy kop gedruk. Hulle het Charl ook aangerand en hom beveel om in die sitkamer te lê. Hulle het ʼn sitkamerbank op hom omgekeer en hom vasgebind.”

Swart verduidelik hulle is intussen steeds aangerand waarna hulle met sy dasse vasgebind en in die kantoor toegesluit is.

“Charl kon hoor hoe hulle wegjaag met my vrou se Mercedes. Hy kon hom met ʼn vreeslike gesukkel loswikkel en het dadelik deur die huis gehardloop en kon ons nie daar kry nie. Toe het hy kantoor toe gehardloop en ons geroep waarop ons geantwoord het. Hannelie kon haar op ʼn manier loswikkel en sy het vir my en Frans-Hendrik gehelp om los te kom. Charl het daarna fisiek die deur uit die kosyn gestamp en kon ons so red,” het Swart bygevoeg.

Huisware en juwele van ongeveer R850 000 en Hannelie se Mercedes-Benz ter waarde van R480 000 is gesteel.

“Alle dank gaan aan die Here vir die feit dat ons nie geskiet is nie en dat hier ʼn wonderwerk plaasgevind het,” het Swart gesê. Hannelie het ná die voorval gesê die Here het sy engele vir hulle gestuur en hulle was altyd totaal bewus dat die engele oor hulle gewaak en hulle beskerm het.

Senekal het Maandag aan Maroela Media gesê hoewel hulle getraumatiseerd is en slaanwonde opgedoen het, gaan dit in die omstandighede goed. Swart se predikant het vir hulle berading gegee en almal was Maandag terug op hul pos.

“Frans het die seerste van ons almal gekry. Hy het twee tande verloor en is ná die aanval na ʼn hospitaal geneem vir waarneming en om te kyk of hy breinbeserings opgedoen het. Hy is dieselfde aand ontslaan,” het Senekal gesê.

Die Springs-polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sue ·

Deesdae moet mens met die minste moontlikse luukse goedere leef om te vermy dat daar gewapende roof by jou huis plaasvind! Luukse voertuie veral vertel dat jy geld het. Ongelukkig is dit nou maar hoe dit in SA gaan, as jy het wil die misdadigers dit hê. En sal tot die uiterste gaan om dit te kry

Ludwig ·

‘n Mens se hart gaan uit na daardie gesin en hul vriend wat so aangerand en mishandel is. Saam met hulle kan ‘n mens die Hemelse Vader loof dat hulle nie ernstiger beseer of selfs doodgemaak is nie, en hulle ook loof omdat hulle so vertrou het op Hom dat Hy hulle sou beskerm.

Ben ·

Is dit nie nou tyd vir ‘n VV-hulpmag nie? Gaan die res van die wêreld net agteroorsit en anderkant toe kyk?

Dave ·

Jy weet nie eens wat gaan aan by jou bure se huis nie. Waarom dink jy dat ‘die res van die wêreld’ hulle bekommer oor hier? Waarom dink jy dat hulle weet wat in SuidAfrika aangaan? Hierdie is ‘n onbekende minderwaardige landjie en as jy in Europa op straat vra waar Johannesburg is sal hulle Europa raai. Ons is op self aangewese. SA word nie so dopgehou as wat jy gehoop het nie.

Strydom-:Stryslim eerder ·

Dit is tragies dat mens na so n voorval verwys as n wonderwerk, dit net omdat mens dit oorleef??? En die bende gaan nog mense se lewens verwoes…mens is bekommerd vir jou kinders, wat le nog voor!

Peet Schabort ·

SlimStrydom, ek stem volkome saam met jou. Hierdie is iets wat net nie moet gebeur onder normale omstandighede. Dit is iets wat jy niemand mag toewens. Dit weerhou my AMPER om tog te sê dat dit een of ander tyd gaan draai by families naby aan diegene wat by magte is om misdaad hok te slaan maar net hulle daaraan afvee om iets daaromtrent te doen. Sou ek vroulik gewees het dan moes ek dankbaar wees dat: NET my tande uitgeskop is, NET my gesig met ‘n strykyster gebrand is, NET my hande en voete met drade vasgebind is, NET my kopvel oopgeskeur is, NET my voertuig gesteel is (so kan ek aangaan) MAAR EK IS WONDER BO WONDER NIE VERKRAG !!
Voorgaande moes net nie gebeur het. OOR EN UIT !!!!!

Genis ·

Ek voel maar jammer vir enigeen wat in daai mishoop moet bly. Of jy nou ‘n vloot slap karre en ‘n laer engele tot jou beskikking het of nie.

Belinda ·

nee gemors,dit is my mense die! Frans ek is bly jy kon kophou-jammer oor jou gesin & Charl my maatjie.ek sal wragtig al die pad afkom&hul kom m… -jy is die beste vriend & is net altyd goed vir ander!!! Baie liefde & herstel al die pad uit Namibia-ek bel jou more.

Johannes Meintjes ·

Eerstens kul ons onself en mekaar as ons dink dat misdaadvoorkoming, reg en geregtigheid, buurtwagte en persoonlike paraatheid enigsins effektief is. Ons kan nie anders nie;- die wie wettige vuurwapens besit moet dit byderhand dra en gebruik sso en waar nodig. Die kop-smokkel indoktrinasie wat aan die boewe en ongeregtighede die reg gee, moet baie dringend in die regte perspektiewe en optrede omgeskakel word.

Len ·

Frans en almal betrokke – sterkte ons dink aan julle en bid vir julle, voel almal so magteloos en oorgelwer en maak baie moeilik sin daarvan.
Ons word geleer om “te waak en te bid” geregtigheid sal seevier – hou moed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.