Bekende Kaapstad-hotel word Sondag ingeplof

Die laaste sien van die Tulip-hotel in Kaapstad Foto: Google Earth

Die laaste sien van die Tulip-hotel in Kaapstad Foto: Google Earth

Die bekende Tulip-hotel in Kaapstad word Sondag gesloop.

Bouplanne vir ʼn nuwe hotel is glo reeds goedgekeur.

Die gebou word al sedert 7 Februarie gedeeltelik afgebreek en die inploffing vind Sondagoggend om 08:00 plaas met ʼn twee uur lange “vestigingstydperk”.

Die Tulip-hotel en konferensiesentrum is al ʼn geruime tyd nie meer ʼn spoginstelling nie en het baie slegte resensies op TripAdvisor ontvang.

“Ross Demolition sal Sondag die 12 verdiepings inplof en die stad se nooddienste sal van die geleentheid gebruik maak om ʼn soek- en reddingsoefening uit te voer aangesien die gebou ʼn soortgelyke omgewing bied as ʼn gebou wat ineengestort het,” het Theo Layne, woordvoerder vir die stad se nooddienste, in ʼn verklaring gesê. “ʼn Aantal ongelukspoppe en snuffelhonde sal ook gebruik word.”

Layne het bygevoeg daar is moontlik ook ʼn oefening vir gevaarlike stowwe en wil die publiek dus betyds in kennis stel dat dit slegs ʼn oefening is.

Lede van die publiek wat graag die inploffing wil sien kan moontlik van Seinheuwelweg of selfs Militêrweg die inploffing dophou. Inwoners in die Nova-gebou op die hoek van Strand- en Chiappinistraat sal ook die inploffing kan aanskou. Dele van Waterkant-, Buitengracht-, Bree-, Loop-, Strand-, Castle-, Hout- en Rosestraat sal ook 06:00 gesluit word.

Die stad Kaapstad is nie betrokke by die inploffing nie, aangesien dit in privaat besit is. Verskeie woonstelle en geboue rondom die Tulip word ontruim. Watertoevoer in die gebied sal ook tussen 06:00 en 12:00 afgeskakel word.

Voertuie wat in die afgesperde gebied parkeer is, sal na ʼn veilige plek weggesleep word. Kontak gerus Carel Barnard by 083 251 5434 vir meer inligting indien jou motor weggesleep is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.