Piet Els, ʼn bekende sakeman van Kimberley, en sy lewensmaat, Magrietha “Rikkie” Alsemgeest, is Dinsdagaand op hul plaas sowat 10 km buite die stad aangeval.
Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê die aanvallers het glo deur die loop van die aand op die plaas toegeslaan. Volgens hom is diamante en vuurwapens uit ʼn kluis gesteel. Els is glo ʼn diamanthandelaar.
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Hy het gesê ʼn saak van huisroof word ondersoek. “Vier aanvallers het die slagoffers glo gedreig en hulle aangerand voor hulle hul hande en voete vasgebind het.” Dit is in dié stadium nie duidelik waarmee die aanvallers gewapen was nie.
Kock het gesê hoewel die beskikbare inligting nog skraps is, word daar beweer dat die verdagtes die kluis met ʼn hoeksnyer oopgesny en met ʼn groot hoeveelheid waardevolle items, ʼn jaggeweer en ʼn wit Mercedes-Benz op die vlug geslaan het.
Volgens Müller is die slagoffers glo vir ure aangerand en gemartel. Albei is tans in ʼn plaaslike hospitaal vir mediese behandeling.
Kock het gesê die voertuig is later verlate op die R31 naby Phutanang in Kimberley opgespoor. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Mense met inligting oor die voorval kan ao. Patrick Dibebe by 082 752 2577 bel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
17 Kommentare
Hartseer en onnodig – wens hulle ‘n vinnige herstel – hoe het daai skelms geweet van die diamante ? mens kan niemand meer vertrou nie.
Goeie genugtig dit hartseer om te hoor. Piet Els is ‘n legende in daardie omgewing. Ons het grootgeword met staaltjies oor hom. Het hom amper as ‘n destydse Robin Wood beskou. . Ek dink dit sal vir Mnr “Terror” Lekota ook hartseer wees om te hoor van Mnr. Els. Ai, dat mens nou op so ‘n manier moet uitvind hoe dit met Mnr. Els gaan – my pa is al oorlede en hulle was dieselfde ouderdom. Baie baie sterkte, hoop hulle kan die nare ervaring agter hulle sit en is sommer gou gou weer op die been.
Is baie sleg wat word van ons land hoelank gaan dit nog so aangaan
Is niemand dan meer veilig nie???
Gaan die Regeering ooit ingryp en plaasaanvalle, sinnelose misdade stop???
OF GAAN HULLE WAG DAT DIT “CLOSER TOO HOME” TREF
Voordat hulle iets gaan doen?
Ai, dis so hartseer en onnodig. Die arme ou mensies! Baie sterkte Oom en Tannie. Hoop nie die motief agter hierdie walglike daad is weer “huisroof” nie…