Bekende kunstenaar aangerand, beroof

Esther Mahlangu (Foto: Esther Mahlangu, Facebook)

Die bekende Ndebele-kunstenaar Esther Nostokana Mahlangu (87) is Saterdag in haar huis in Siyabuswa naby KwaMhlanga, Mpumalanga, aangeval en beroof.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het Mahlangu omstreeks 15:00 haar huis se deure gesluit om daarna ’n middagslapie te neem. Dit is toe dat sy ’n onbekende man in die huis gewaar.

“Die man het haar na bewering gegryp en in die gesig geslaan. Hy het haar hande ook vasgebind,” sê Mohlala. “Die man het haar toe glo gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het.”

Mahlangu het aan die polisie gesê dat sy nie kan onthou wat daarna gebeur het nie. “Sy vertel toe sy bykom, het sy besef haar vuurwapen en kontant is uit die kluis verwyder.”

Sy het kneusplekke aan haar gesig opgedoen.

Mahlangu is bekend vir haar abstrakte kunswerke wat op tradisionele Ndebele-ontwerpe gebaseer is. Dié patrone is oorspronklik gebruik om mense van dié Afrika-stam se huise te versier. Sy maak hoofsaaklik gebruik van akrielverf op doek.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die voorval skerp veroordeel en gesê dié verdagte moet so vinnig moontlik in hegtenis geneem en gestraf word.

Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof en vra die publiek se hulp om die verdagte op te spoor. Enigiemand met meer inligting kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Ja, so word baie ou mense aangeval in hierdie korrupte land. Meeste van ons boere wat vermoor is was ook bejaard en kon hulle self nie verdedig nie. Ongelukkig was hulle lewens nie gespaar nie. Sy kan dankbaar wees sy lewe nog.

marius ·

Gee haar ‘n uur met hom . Dan sal hy ook ‘n kunswerk wees ….vir die begrafnis ondernemer om weer aanmekaar te sit .

Sandra ·

Joh, dis erg. Die vrou is wereldwyd bekend vir haar kuns. As ek dit nie mis het nie was sy al in Frankryk of iets. Dit is ‘n klad op Suid Afrika se alreeds boekie vol kladmerke, dat so iets met die vrou gebeur het. Ek is net bly jy is ok Esther.

Kobus ·

Ek is werklik jammer vir haar. Wat my opval is die bohaai wat gemaak word. Almal is nou uitgesproke oor gweld maar plaasmoorde word vinnig geplaas en dalk op TV gewys maar skielik net stilte. Wat van die talle vroue wat aangeval word ? Net omdat hulle nie ‘n “naam” het nie beteken dit skynbaar nie veel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.