Bekende lodge-eienaar sterf ná aanval in Kosibaai

Patrick Pedlar (Foto: Facebook)

Patrick Pedlar (57), ʼn bekende lodge-eienaar van Kosibaai in KwaZulu-Natal, het Woensdagoggend in die Manguzi-hospitaal aan sy beserings beswyk ná hy die vorige dag geskiet is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê klagtes van onder andere motorkaping, moord, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en die besit van ammunisie word ondersoek.

“Volgens die ondersoek is die man op 10 November omstreeks 12:10 in die KwaNdaba-gebied van sy vuurwapen beroof deur twee gewapende mans,” het Gwala aan Maroela Media gesê. “Die verdagtes het hom in die voorkop geskiet. Hy is na ʼn hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.”

Volgens Gwala kon Pedlar tydens die aanval ook skote vuur en een van die aanvallers is op die toneel dood. “ʼn Ongelisensieerde vuurwapen met 14 patrone en ʼn windbuks is langs die oorlede verdagte gevind.”

Een verdagte het met Pedlar se vuurwapen van die toneel gevlug.

“Die ondersoek duur voort,” het Gwala gesê.

Maroela Media verneem Pedlar wou hout gaan koop het vir die lodge toe hy aangeval is. Toe hy langer as gewoonlik weggebly het, het sy vrou hom probeer bel, maar toe hy nie antwoord nie, het sy dadelik onraad vermoed.

Pedlar is glo oorval toe hy hout by verkopers langs die pad gekoop het. ʼn Verdagte wou ná die aanval met sy bakkie wegry, maar omdat hy nie kon bestuur nie, het hy ʼn paar meter verder in ʼn boom vasgery.

Medelye stroom intussen in op sosiale media. ‘n Gedenkdiens word Saterdag gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Helder oor dag waar almal kan sien. NOG sinnelose moord elke liewe dag liewe genade.

Sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tyd mag God julle dra!

Tanniepetoors ·

Teen die tempo wat werkgewers uitgemoor word gaan daar spoedig grootskaalse hongersnood in hierdie korrupte land wees

Helene ·

En so gaan dit net aan en aan. Verder bly ek stil voor ek weer geblok word!

PieterP ·

As jy wit is het jy ‘n teiken op jou rug in die land. Ons sal ook moet begin saamloop as ons iewers iets moet loop doen.

Johan David ·

En so loop die bloed van NOG ñ onskuldige man oor die prag grond van ons vergete land Suid-Afrika. Rus in vrede my broer………..

kallie ·

So sinneloos! Die hande wat die mense voed word vermoor,watter bevrediging word hieruit verkry? Of word hulle dalk vergoed? Maar die beste : Hulle vergoeding wag in die Ewigheid van Verderf!

Androclus ·

Kan daai Cele nie sien wat gebeur nie,elke dag net moord,hy is siek of hy hou hom dom,moontlik is hy.Die land het hulle al so op sy knieë deur hul korrupsie en plaasmoorde.

Blomme ·

En so lyk die Nuwe Sodom en Gomorrah…. Een vd geweldadigste lande ter wêreld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.