Bekende mediaman sterf in Londen

Salie de Swardt (78). (Foto: Hennie van Deventer/Facebook)

Skokgolwe is deur die mediabedryf gestuur ná die dood van die bekende mediaman Salie de Swardt (78). Hy is Saterdag skielik in Londen oorlede.

De Swardt en sy vrou, Lisa, het pas in Brittanje aangekom toe hy aan ʼn hartaanval in sy hotelkamer dood is.

Die egpaar sou drie weke lank in dié land vakansie gehou het. Hulle het boonop die vorige dag nog tenniswedstryde in Londen se O2-arena gaan kyk.

Hennie van Deventer, voormalige uitvoerende hoof van Naspers-koerante, het Saterdagoggend die nuus op sosiale media gedeel.

“Salie was in sy voortreflike loopbaan onder meer besturende direkteur van Media24, uitvoerende hoof van tydskrifte van Naspers – dieselfde tyd toe ek hoof van koerante was – redakteur van Beeld en redakteur van Finansies en tegniek,” skryf Van Deventer.

“Hy was ʼn Nieman-genoot aan die Harvard-universiteit en ʼn wenner van Naspers se hoogste eerbetoning, die Phil Weber-prys.”

Huldeblyke stroom sedertdien die aankondiging in.

Pieter Cronjé, ook ʼn groot naam in die kommunikasiebedryf, sê De Swardt was ʼn “deurwinterde joernalis, jintelman, sakekop, raadgewer en ʼn wellewende mens”.

Talle ander oudkollegas en vriende beskryf hom as “een van die vriendelikste mense” wat alles “met soveel hartlikheid en wellewendheid gedoen het”.

“Hy was sjarmant en altyd hoflik,” skryf nog ʼn oudkollega.

Volgens Natie, Salie se broer, is begrafnisreëlings nog nie in hierdie stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.