Geliefde musiekresensent oorlede

Pieter Kooij was 21 jaar lank musiekonderwyser aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en die sedert sy aftrede in 1993 steeds nou betrokke by die skool se musieklewe. Foto: Facebook

Pieter Kooij sal as ʼn legendariese musiekresensent en -onderwyser onthou word, “ʼn ware heer wat altyd bereid was om mense te help”.

Kooij (81) is Donderdagmiddag in die Universiteit van Kaapstad se akademiese hospitaal aan nierversaking oorlede nadat leukemie enkele maande gelede by hom gediagnoseer is.

“Sy dood laat ʼn groot leemte in my lewe,” vertel die afgetrede operasangeres en musiekonderwyseres Magriet Stemmet, wat tot sowat ses jaar gelede Kooij se buurvrou was in die buurt Oranjezicht, waar die musikus tot sy dood gewoon het. Stemmet en haar man, Johan, wat vyf jaar gelede oorlede is, het toe na ʼn aftreeoord verhuis.

“Pieter het my ondersteun en belanggestel in wat ek ook al gedoen het,” het ʼn bedroefde Stemmet Vrydagmiddag aan Maroela Media gesê. “Hy was vir my ʼn sielsgenoot met wie ek nog oor my oorlede man kon gesels.”

Kooij se lewensmaat van baie dekades, Ken Rix, het vroeër vanjaar sy stryd teen lewerkanker verloor. “Daarna was Pieter baie eensaam,” vertel Stemmet. “Hy was die afgelope tyd amper deel van ons gesin en het gereeld familie-etes hier by my bygewoon nadat sy vriend oorlede is.”

Sy onthou Kooij as ʼn “goeie buurman, wat in dieselfde dinge as ek belanggestel het en gereeld musiekkonserte saam met my bygewoon het. Hy en my man was baie goeie vriende en albei musiekkenners.”

Pieter Kooij (links) se jare lange vriendin Magriet Stemmet skryf by dié foto wat sy gister op Facebook gedeel het: “Pieter Kooij, voortreflike buurman en liewe vriend is vanmiddag oorlede. Pieter en sy vriend Ken Rix is ’n paar maande ná mekaar oorlede. Hier is ons nog vrolik en gesellig saam. Hulle afsterwe laat ’n ontsettend groot leemte.”

Stemmet onthou hom ook vir die suiwer Afrikaans wat hy gepraat het en dat hy altyd deftig aangetrek was. “Pieter was ʼn ware heer, die tipe wat nog die deur vir ʼn vrou oopgemaak het.”

Sy vertel Kooij, wat aan die begin van September 81 jaar oud geword het, en Rix het dekades lank oorkant haar en haar man gewoon. “Ek onthou nog so goed hoe ek, toe ek nog sanglesse gegee het, in die komvenster sou staan en wag dat studente opdaag. Pieter, wat baie lief was vir tuinmaak, was gereeld sy blomme aan die inspekteer en sou my altyd vir koffie nooi wanneer die studente nie opgedaag het nie.

“Hy was altyd daar vir jou; altyd bereid om te help. Ek gaan hom ontsettend baie mis.”

Sy sê veral manne in hul veertiger- en vyftigerjare wat in die 1970’s en 1980’s leerders was aan die Hoërskool Jan van Riebeeck, waar Kooij in 1993 ná 21 jaar as musiekonderwyser afgetree het, onthou hom nog vir die kadetorkes wat hy afgerig het.

“Sy studente het altyd uitstekend presteer; so hy moes ʼn baie goeie onderwyser gewees het,” sê sy.

Helena le Roux, ʼn oudouer van die skool wat nou aan die alumnikantoor verbonde is, sê Kooij het 11 jaar gelede die Pieter Kooij-musiekkompetisie ingestel en die pryse geborg. “Vanjaar was die tweede keer dat een van ons kinders, die pianis Gerhard Joubert, die kompetisie gewen het, maar ook die eerste keer dat Pieter nie een van die beoordelaars was nie omdat hy toe reeds siek was.”

Sy onthou Kooij as “ʼn jintelman” wat baie gelief was onder die leerders. “Hy het ʼn ongelooflike musiekkennis gehad wat hy graag met die kinders gedeel het. Mense sê altyd mooi goed van iemand wat doodgaan, maar ek het dit ook van hom gesê toe hy nog geleef het,” vertel Le Roux.

Die gr. 11-leerder Gerhard Joubert het onlangs slegs die tweede leerder van die Hoërskool Jan van Riebeeck geword wat die Pieter Kooij-musiekkompetisie wen. Foto: Facebook

Sy sê die skrywer Herman Lategan, ʼn oudleerder van die skool, het in 2015 ʼn huldeblyk aan hom geskryf waarin hy genoem het Kooij het vir die kinders wêrelde oopgemaak deur hulle na operas en konserte te neem en hulle aan klassieke musiek bekend te stel.

Le Roux was Vrydag reeds besig om ʼn uitstalling oor Kooij se lewe saam te stel. ʼn Lewensviering word vir 3 Oktober in die herehuis Welgemeend op die skool se terrein beplan. “Ons hou dit eers dan om dit moontlik te maak vir sy susterskinders wat oorsee woon en baie lief was vir hom, om dit ook by te woon.”

Sy sê die familie het spesiaal versoek dat Gerhard tydens die geleentheid optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vian Roos ·

Baie dankie dat jy my oom is. Ek sal jou mis en sal altyd as mentor en insperasie wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.