Bekende omroeper Evert Snyman oorlede

Evert Snyman Foto: RSG

Evert Snyman Foto: RSG

Die bekende Afrikaanse omroeper, skrywer en akteur Evert Snyman is Vrydag in die ouderdom van 60 oorlede.

“Oom Evert” sal veral onthou word vir Storietyd, ʼn kinderprogram wat saans net na 19:00 op RSG uitgesaai is.

Hy het ook talle dramas saam met sy vrou, Mari, geskryf.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, het in ʼn verklaring gesê: “Hy was ons baie goedgesind.” In 2009 het die ATKV Snyman vereer vir sy volgehoue bevordering van Afrikaans, wat in daardie stadium reeds 33 jaar geduur het.

Benewens sy liefde vir stories, die radio en Afrikaans, was Evert ook ’n kranige motorfietsentoesias en het hieroor ook ’n radiorubriek behartig. “Die man het die lewe geleef,” het Amanda Olivier, ’n toenmalige kollega van Snyman, in ’n onderhoud op Pasella gesê: “Dit word in sy dramas weerspieël.”

Snyman is in 2006 met ’n skaars niersiekte gediagnoseer en moes gereeld dialise ondergaan. In ’n onderhoud met Beeld het hy gesê groot dele van Stoffel [die seekoei] se avonture is geskryf terwyl hy vasgekluister was aan die dialisemasjien.

Hy is nie net deur die ATKV vereer nie. In 1994 het hy die gesogte Artes-toekenning gekry as Beste Uitsaaier: Radiodienste wat in Engels en Afrikaans uitsaai.

Evert Snyman het in 1976 by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK), as akteur begin werk. Hy was ’n gereelde akteur in verskillende radiodramas en reekse vir die destydse Afrikaanse Radiodiens en Springbokradio.

In 1982 sluit hy hom aan by die Afrikaanse Radiodiens as omroeper en regisseur.

Twee jaar later het gaan werk hy by Mimosafilms.

In 1984 het hy die vryskutmark betree, maar het in 1987 weer voltyds aangesluit by die SAUK se Afrikaanse Radiodiens as senior omroeper/regisseur.

Snyman het van homself gesê dat hy vinnig kon kwaad word en onder die jong akteurs het hy die bynaam “Helsbesem” gehad, tog het verskeie van hierdie akteurs hulle lof uitgespreek vir die manier waarop hy hulle loopbane bevorder het.

Evert en Mari het twee kinders gehad.

Pasella het in 2013 die volgende insetsel oor Evert Snyman uitgesaai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Retha ·

Evert Snyman het my 11 jarige geleer om radio te luister deurdat hy van bitter klein tyd altyd die stories wou luister

Pieta ·

Evert sal deur al sy aanhangers ook jare gemis word – hy was ‘n besondere mens in alle opsigte. Selfie, dis duidelik dat jy niks van die radiowese weet nie. Jou vraag laat ‘n wrang smaak. Ek stel voor dat jy iemand nader wat wel kan lees, dan kan hy/sy vir jou vertel wat in die berig hierbo staan… en dan sal jy wel weet wie Evert Snyman “nou regtig” onder andere was!

Pieta ·

Ns; Evert Snyman was ook die skrywer van die radiodrama, “Groblerspruit”, wat in opdrag van Maroela Media vervaardig is en tans op 22 gemeenskapsradiostsies uitgesaai word.

ladybug ·

Dis baie hartseer om te hoor. Ek geniet Groblersspruit geweldig!

Groot Jammerte ·

Alle simpatie en medelye met sy gesin, familie en vriende. Evert Snyman se afsterwe is egter ook vir almal wie die voorreg gehad het om hom deur middel van sy besonderse kuns te kon ervaar, ‘n enorme verlies. Ek is 60 jaar jonk en is bly om te kan sê dat ek sy stories kon geniet vir so baie jare al. Dis werklik jammer dat hy nie meer met ons is nie, maar iemand soos Evert se talent is absoluut tydloos en danksy tegnologie het dit bewaar gebly vir almal.

Frank Potgieter ·

Kon nie glo wat ek hoor. Sterkte aan sy familie. Het nog woensdag telefonies met hom gegrap in hospitaal!!!!!!

Annamien Bergh ·

Baie talentvolle man. Sal stories sal wyd en syd gemis word.

Annette van Graan ·

Ai, dit is baie hartseer. Ek is amper 26 en as ek soms oom Evert se stories op die radio gehoor het, het dit my teruggeneem na my kinderjare waar ek getrou na sy stories geluister het. Niemand sal die karakters so kan lewe gee soos wat hy gedoen het nie!

Jennifer ·

Dis baie hartseer dat nog een van Afrikaans se groot name aan ons verlore is. Hy kom van ‘n generasie van baan brekers in Afrikaans. So hartseer dat vandag se jeug bittermin weet van die groot name van Afrikaans. Groblerspruit is heerlik om te luister, ek het ook in my jeug in die Laeveld gewoon, my Oom het ‘n groot plaas daar gehad. Is dit moontlik om die tema liedjie van Groblerspruit te koop?

Emile ·

Mense daai was nou ‘n voorslag verteller van die eerste klas. Hy kon soveel lewe aan ‘n karakter gee – hetsy dit ‘n peiperige ou muis of ‘n slinkse ou jakkels tot op ‘n groot seekoie. Ek is al ‘n jongman, maar saans kry jy my nie voor die radio weg voor Oom Evert se storie nie enduit klaar is nie. Daar sal ‘n groot gemis wees op RSG, maar ons sal hom altyd onthou. Alle sterkte aan sy familie en vriende daar by RSG.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.