Bekende oud-rugbyspeler en Bokstoeier sterf

Clifford “Cliffie” Etzebeth. Foto: Facebook

Clifford “Cliffie” Etzebeth (69), die kleurryke Westelike Provinsie-rugbyspeler en Springbokstoeier van die 1970’s en 1980’s, is oorlede.

Etzebeth is ʼn oom van die Springbokkaptein Eben Etzebeth, en het die Streeptruie van 1977 tot 1981 as stut en slot op die rugbyveld verteenwoordig.

Hy en een van sy broers, Skattie, wat saam met hom vir die klub Kaapstad-Polisie gespeel het, het Springbokkleure in stoei verwerf.

Verskeie bekendes in sportkringe het Etzebeth se dood Sondag op sosiale media bevestig. Volgens inligting op sosiale media het Etzebeth in ʼn motorongeluk gesterf.

“Baie hartseer. My groot vriend, Cliffie Etzebeth [is] oorlede in ʼn motorongeluk vandag. [Die] lewe is so kort,” het Toks van der Linde, die oud-Springbokspeler en televisie-aanbieder op sy Facebook-profiel geskryf.

Die oud-Springbokke Rob Louw en Schalk Burger sr., tydgenote van Etzebeth in die WP-span, het ook op Twitter aan hom hulde gebring. “Mense wat groter as die lewe self is, sterf nie. Hulle verdof net. Rus in vrede Cliffie. Sê hallo vir Skattie en dankie vir al die herinneringe en dat jy altyd Cliffie Etzebeth gebly het,” het Burger geskryf.

Meer besonderhede oor die ongeluk was nie onmiddellik bekend nie.

Etzebeth het jare lank, nadat hy Springbokkleure in stoei verwerf het, nog in veteraanstoei uitgeblink. Hy het onder meer in 2011 in Albanië en in 2012 in Bulgarye wêreldtitels in sy gewigsafdeling in die ouderdomsgroep 61-65 gewen.

Die Etzebeths was gedug vir hul niks ontsiende benadering op en van die veld af, en in die dae toe geglo is dat elke rugbyspan sy “meanie” moet hê, het hulle vreesloos daardie rol vervul.

In 1977, op die dag van Morné du Plessis se veelbesproke plettervat op Naas Botha in ʼn wedstryd teen Noord-Transvaal op Loftus Versfeld, Pretoria, was Cliffie in die WP-span.

Die Pretorianers was op die oorlogspad en Du Plessis is ná die wedstryd onder polisiebeskerming van die veld af gelei.

Hy het later vertel een van die konstabels het hom onderweg na die paviljoen toegesnou” “Ek is sommer lus en donner jou myself.”

Daar is letterlik vir Du Plessis se veiligheid gevrees, en Etzebeth het vertel dat die legendariese Springbok en WP-afrigter, Boy Louw, hom en die latere Bokreus Flippie van der Merwe as voorsorg as Du Plessis se “lyfwagte” aangestel het.

Hoeveel hulle daarmee te doen gehad het, weet ʼn mens nie, maar Du Plessis is op die ou end geen leed aangedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Rus sag ‘OU GROTE’ Jou geliefdes gaan Jou MIS Dankie vir Jou aandeel in SPORT !!!!! ONS WAARDEER !

Wessel de Jager ·

Rus in vrede my vriend.
Jou stenm is stil,maar jy lewe saam met ons voort

Lorinda Horn ·

Innige meegevoel aan familie en vriende van die oud-Springbok.

Terloops … wat op aarde beteken “niks ontsiende”? Is dit nie makliker om te sê “ongenaakbare” nie? Wat is besig om met ons taal te gebeur?!

Cherokee ·

Lorinda,somtyds lewer lede nie kommentaar om waardering te betuig maar bydraes soos joune is van onskatbare waarde. Dankie jý!

Krewel ·

Ek het ook gereeld ‘n proleem met taalgebruik deur MM. In hierdie geval is ‘niks ontsiende’ korrek.

dirk ·

Cliffie en Skattie was wilde bakleiers doerie jare. Menige verhale oor die broers het hulle legendes gemaak tot vandag toe. Dit is jammer om te hoor Cliffie is oorlede, veral dat dit in ‘n motorongeluk was.. Sterkte aan die familie

Yankee ·

RIP Clifford !!! Sal ek ooit vergeet hoe jy en Skattie een aand in die Parow Hotel my bas gered het toe drie skollies my wou pak. Jare daarna het ons saam gekuier. Eers Skattie, toe kleinboet, en nou jy. Lief jou ou grote.

hendrik ·

Yankee, jy sal weet, die groot baklei was maar altyd by die Bell & Bull naby Belville stasie.

Niel ·

RIP. Weet iemand miskien meer van ongeluk en waar dit gebeur her?

Koos ·

Ek lees op Netwerk24 dit het gister om 14:00 gebeur op N1 naby die R300. Wit dubbelkajuitbakkie gery en dit het gerol en op dak bly lê.

Erica ·

Net na Stodels N1/R300 . Aan die moet van die R300 brug soos jy dit nader/opkom.
Daar word Wêreld wyd getreur oor sy Heengaan.
RiV Ou Gentle Giant……. tot Eendag….

Hennie Terblanche ·

Het in die 70 jare teen Skattie en Cliffie stoei ge- oefen by Goodwood Stoeiklub onder Abraham Geldenhuys. Watter wonderlike stoeiers en vriende. Cliffie dit is met skok wat ons verneem van jou heengaan maar die goeie herinneringe sal altyd daar wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.