Bekende Pta-arena in ligte laaie

‘n Brand by die Heartfelt Arena (4 September 2018). Foto: Twitter

Brandbestryders is steeds op die toneel waar ʼn reusebrand by die bekende Heartfelt Arena net buite Centurion uitgebreek het.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê die vlamme van die brand is reeds geblus, maar brandbestryders is steeds besig om plekke wat nog smeul nat te spuit.

Talle mense het foto’s op sosiale media gedeel van dik, swart rookwolke wat bo die arena uitborrel. Volgens sosialemediagebruikers kon die rook kilometers ver gesien word.

Verskeie mense het ook hul kommer uitgespreek oor hoe die brand die Unisa-eksamens sal beïnvloed, aangesien dié sentrum as eksamenlokaal vir studente gebruik sou word.

‘n Brand by die Heartfelt Arena (4 September 2018). Foto: Twitter

Pieterse het aan Maroela Media gesê die saal, dak, klankdempers en gordyne van die arena het gebrand. Ongeveer 80 stoele is ook in die brand vernietig. Volgens Pieterse is die kantore by die arena nie deur die brand geaffekteer nie.

“Hulle was besig om herstelwerk in die saal te doen. Een van die mense op die toneel het vir ons gesê hulle het onder meer lugversorgers geïnstalleer. Terwyl hulle besig was om sweiswerk te doen, het van die goed aan die brand geraak en hulle kon uiteraard nie die vlamme onder beheer bring nie,” het hy gesê.

Volgens Pieterse is dit nog nie moontlik om ʼn beraming van die skade te doen nie. Niemand is in die brand beseer nie.

Die Heartfelt Arena kon nie Dinsdagmiddag telefonies bereik word nie. Daar is ook nog geen amptelike verklaring oor die brand uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Disselboom ·

Kan ons asb ooreenkom oor die spelling van “sweiswerk” in Afrikaans? Of moet ons nou maar sê omdat die knaend verkeerd as “swyswerk” gespel word, laasgenoemde nou maar aanvaar moet word?

Pieter ·

Disselboom jy is heeltemal reg. Ek het dit ook onmiddelik raakgesien. Ongelukkig is korrekte spelling nie meer ‘n prioriteit nie.

Gertjan ·

Pieter, jy wat so goed spel – “onmiddellik” het TWEE elle!

Robert ·

Ook maar nalatig. As jy iets doen wat vonke veroorsaak sorg dat jy reg is vir ‘n moontlike vuur hetsy binne of buite

Robert ·

Ook maar nalatig. As jy iets doen wat vonke veroorsaak sorg dat daar iemand is wat kan dophou vir vuur hetsy binne of buite.

kathy ·

Sterkte daar en vir die maatskappy wat die werk gaan doen het. Julle gaan hoes

Stokkies ·

Ag nee man, sit al vir jare daar en eksamens skryf, vrek van hitte in somer en kripeer van die koue in winter. Hulle instaleer uiteindelik lugversorgers en daar brand die plek af.. :'(

Hennie ·

Heartfel Arena is in Voortrekkerhoogte, beslis nie buite Centurion nie.

Sonneblom ·

Ai ek hoop ons kan nog eksamen skryf daar Oktober/November. Wil regtig nie gaan skryf by die skilpadsaal nie….area freak my uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.