Bekende Pta-restaurant in brand verwoes

Foto: ER24

Foto: ER24

Die bekende Stone Cradle-restaurant langs die Rietvlei-natuurreservaat in Centurion het Sondagoggend afgebrand.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-brandweerdienste, het aan Maroela Media bevestig dat die brand, wat omstreeks 10:00 ontstaan het, die gebou heeltemal verwoes het. “Soos met enige grasdakgebou het die vlamme soos blits versprei en binne oomblikke was die hele gebou in ligte laaie,” het Pieterse gesê. “Die sterk wind het die situasie nog verder vererger deur die vlamme vinnig te versprei, selfs tot in die natuurreservaat langs Stone Cradle waar die veld vlamgevat het.”

Foto: Crime Lookout/Facebook

Foto: Crime Lookout/Facebook

Pieterse het gesê ʼn tweede brandweerspan is uitgestuur om die veldbrand in die Rietvlei-natuurreservaat te blus. Intussen is die eerste brandweerspan steeds op die toneel by Stone Cradle. “Die groot vlamme is geblus, maar ons is nog steeds besig om dele wat smeul te blus,” het hy gesê. Niemand is in die voorval beseer nie, hoewel vier persone op die toneel vir rookinaseming behandel is.

Volgens Pieterse is daar ʼn vermoede dat die brand in die kombuis begin het, aangesien restaurantpersoneel besig was om kos voor te berei toe die brand ontstaan het. “’n Formele ondersoek sal môre [Maandag] van stapel gestuur word om die oorsaak van die brand te bepaal,” het hy gesê.

Die restaurant het intussen ʼn boodskap op sy Facebook-blad geplaas om te sê dat die besigheid “weens onvoorsiene omstandighede” geen verdere handel sal dryf tot verdere kennisgewing nie. “Geen verdere inligting kan in hierdie stadium bekendgemaak word nie,” lui die inskrywing. Verskeie persone het hul medelye teenoor die eienaars van Stone Cradle op die blad betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Dit lyk my ‘n grasdak bly maar ‘n uiters groot risiko. Veral wanneer die wind sterk waai is daar geen keer. Snaaks hoedat gras ‘makliker’ aan die brand raak wanneer die wind sterk waai?
Daar word gesê dat die enigste manier om die vuur op ‘n grasdak te (probeer) stop is om met ‘n kettingsaag ‘n gedeelte dak wat nog nie brand af te saag. Natuurlik is die hitte en windrigting bepalend om dit te laat slaag.

Coenraad ·

Met al die tegnologie wat ons het, hoekom bou ons nog dakke met GRAS.!

Cobus Tomlinson ·

Julle kan gerus kan navors. Al die brande in restaurante begin nadat de Extractor aangeskakel het, daar is n opbou van olie en gemors in n extractor, met die aanskakel is daar n vonk wat dan alles laat aan die brand slaan.n Paar jaar gelede het die Shoprite kombuis in Nelspruit aan die brand geslaan met baie skade. Hoekom bou mens nog grasdakke, vra my ek bly in een. Niks kan vergoed vir die atmosfeer nie

Knersus D ·

Baie insiggewend Cobus – ek hoop dat mense ag gee op die extractor probleem. Ook moet alle skoorstene in grasdak geboue jaarliks skoon gemaak word, Die opbou van vet en roet is nie net beperk tot elektriese extractors nie.
En ek stem ook volhartig met jou stelling oor die atmosfeer.
Maar – waar mense op oop vure braai in ‘n groot grasdak gebou is daar risiko….

marianna ·

Hier in die dorpie waar ek bly het party van die eienaars met grasdak huise nie eers versekering nie want dit is te duur.

Delene ·

Rietvlei Natuur Reservaat is geensins deur die brand by Stone Cradle geaffekteer nie. Sektor gemeenskapslede, sekuriteit, publiek en Rietvlei personeel het hard gewerk om brand onder beheer te kry. Die aangrensende plot het wel gebrand waar daar Nyalas op is. Hul is veilig. Baie dankie vir die goeie samewerking van almal betrokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.