Bekende rugbyhistorikus oorlede

Gideon Nieman en dr Cecil Moss, oudste lewende Springbok en gewese lid van die Sesde SA Pantserdivisie se oorlogtydse rugbyspan, ná die verskyning van Nieman se boek oor die “Khaki-clad Springboks”. (Foto: Facebook)

Suid-Afrikaanse rugby het een van sy voorste historici en statistici verloor met die dood van Gideon (Giel) Nieman Vrydag in Pretoria.

Hy het ook een van die omvangrykste rugbyversamelings in die land besit.

Nieman is oorlede nadat hy ʼn hartomleiding ondergaan en komplikasies ná die operasie ingetree het. Hy sou op 24 September 69 geword het.

Heinrich Shulze, nog ʼn gerekende rugbyhistorikus en -versamelaar het só gereageer toe Pale Toe! hom gevra het hoe hy Nieman onthou:

“Jy vra vir twee reëls. Oor Giel of Gideon Nieman kan ek 2 000 reëls skryf. Lag-lag. Hy was my vriend, maar ook veel meer. ʼn Mentor, ʼn leermeester van rugby, kos, wyn en die lewe.

“Hy was ʼn ‘mensch’. ʼn Ruimhartige en ruimgeestige individu wat met gesag oor klassieke musiek, opera, kuns, letterkunde, politiek, ekonomie, en veral oor rugby in al sy fasette kon gesels.

“Om te sê dat Giel Nieman ʼn bydrae gemaak het as rugbyhistorikus is soos om te sê dat Frik du Preez rugby gespeel het.

“Giel was in die afgelope 25 jaar ʼn vaderfiguur vir ʼn jonger geslag rugbyhistorici. Hy was onberispelik noukeurig en objektief wanneer hy iets oor rugbygeskiedenis opgeteken het.

“Sy liefde vir die spel rugby en die bewaring en optekening van Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis was ʼn lewenslange passie wat in die middel 1950s as laerskoolseun op Ermelo begin het.

“Vir oorsese rugbyhistorici was Giel Nieman die gesig van Suid-Afrikaanse rugbyhistorici. Hy het ʼn uitgebreide internasionale rugby-vriendekring gehad en die stroom van huldeblyke van reg oor die wêreld op sosiale media waarin sy bydrae, vriendskap en ruimhartigheid beskryf word, vertel van sy statuur as internasionaal gerekende rugbyhistorikus.”

Nieman het verskeie rugbypublikasies die lig laat sien. Sy en Lappe Laubscher se bekroonde The Carolin Papers (1990) [oor die Springboktoer van 1906-1907] asook sy meer onlangse Khaki-clad Springboks – Rugby matches played by the 6th South African Armoured Division 1943-46 (2017) is albei mylpale in die Suid-Afrikaanse rugbygeskiedskrywing.

“Tussen 1995 en 2013 het ʼn vol en besige program as dosent en later ook departementshoof aan die Universiteit van Pretoria beteken dat Giel nie veel tyd beskikbaar gehad het om aan rugbygeskiedskrywing af te staan nie. Hy het daarom ʼn hele aantal rugbyprojekte vir sy aftrede in die visier gehad. Khaki-clad Springboks was die eerste hiervan gewees.

“Ek en hy was ook besig met ʼn langtermyn-projek oor Suid-Afrikaanse klubrugby wat uiteindelik in boekformaat moes verskyn. Sonder Giel se bydrae en leiding sal dit waarskynlik ʼn ongeskryfde boek bly.

“Giel Nieman was inderdaad die Frik du Preez van Suid-Afrikaanse rugbyhistorici,” het Shulze gesê.

Nieman het as statistikus die sewes se inligting in die SA Rugby Annual bygehou. Eddie Grieb, die SA Rugbyunie (Saru) se statistikus, sê hy (Nieman) het baie moeite gedoen om die inligting van Sewesbokke bymekaar te maak, omdat daar in die begin niemand was wat die statistiek op datum gehou het nie.

“In die algemeen was hy iemand wat lief was vir die geskiedenis, en hy het uit sy pad gegaan om die geskiedenis na te speur. Dit is hoekom hy ook so baie vriende oorsee gehad het. Die rugbywereld het ʼn groot seun verloor wat nie maklik vervang sal kan word nie,” het Grieb aan Pale Toe! gesê.

Nieman het ook sowat ʼn jaar gelede die Facebook-blad “SA Rugby Clubs 1875 to 1992” op die been gebring om die geskiedenisse van klubs uit daardie jare aan te teken. Sy versameling het ʼn indrukwekkende getal klubgeskiedenisse ingesluit.

Nadat hy as hoogleraar in sakebestuur aan die Universiteit van Pretoria afgetree het, het Nieman steeds kursusse oor entrepreneurskap aangebied. As sakeman en fynproewer van wyn en voedsel was hy ook ʼn restauranteienaar.

Lede van die gewese Oostelike Rugbyklub in Pretoria (die Uile) sal hom as getroue en toegewyde speler en klubman onthou (ewe tuis op die vleuel as in die voorry).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrea Nieman ·

Baie dankie vir die mooi huldblyk aan my pa. Dis wonderlik om te sien hoe baie hy vir mense beteken het.

Piet Pille ·

Andrea, jou pa was en sal altyd onthou word as die grootste S A rugbyhistorikus van alle tye. Innige meegevoel aan jul familie.

Wouter Dreyer ·

01 April 1995 het Giel en ek beide as dosente in besigheidsbestuur by die Universiteit van Pretoria begin. Ons het dikwels gegrap dat ons die April’s Fools aanstellings was, veral toe hy later as Prof en toe as Departementshoof aangestel is.

Tipies Giel, toe ons dogter in Mei 1995 gebore is het hy, soos ek nog ‘n rou, nuwe dosent, onmiddelik my klasse oorgeneem sodat ek tyd saam met my familie kon spandeer. En so sal ek Giel onthou, ‘n man wat omgee en doen, vol humor en rugby stories, ‘n man wat ‘n goeie, vol lewe gelei het in diens van andere.

Nelie Harmse ·

Ek ken Giel vandat hy die eerste keer die akademie betree het – seker so in 1990, 1991. Ons was destyds nog saam in ‘n saamry klub en nodeloos om te se, het hy ons bekend gestel aan die wereld van lekker eet en eksotiese restaurante! Giel was my studieleier met my MBA studies en hy was die groot motivering agter my uiteindelike PhD graad waar hy ook my studieleier was. ‘n Ware mentor.

My innige meegevoel aan sy doger Andrea, Jacky, vriende en almal wat lief was vir hom. Hy het voorwaar ‘n paar lewensjare in hierdie 69 jaar van hom geLEEF!

Pastoor ·

Rus sag oom Giel. Jou hart sou baie seer vandag gewees het Springbokke is in rou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.