Bekende sanger besoek Koben (16) in hospitaal

Steve Hofmeyr het by Koben in die hospitaal gaan kuier (Foto: Verskaf)

Koben Hofmeyr, die seun van Louis Trichardt in Limpopo wat sy nekwerwels in ʼn rugbywedstryd beseer het, se dokters het gister ʼn bloedklont in sy bobeen opgemerk.

Maroela Media het vroeër berig Koben, die kaptein van die Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan, het ʼn ander speler geduik en in die proses sy nek ernstig beseer. Hy is toe per helikopter na die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria se waakeenheid geneem waar hy dadelik ʼn noodoperasie ondergaan het.

Koben het verlede week nog ʼn operasie ondergaan waartydens hulle sy nekwerwels weer geheg het, en hy sterk nou aan in die hospitaal.

Volgens Koben se pa, Trompie Hofmeyr, gaan dit goed met Koben, ongeag ʼn bloedklont wat dokters gister opgemerk het. “Die klont is so 4 mm groot. Hy kry nou behandeling daarvoor en is bed-rustend. Sy bloeddruk bly nog ʼn bietjie onstabiel, maar hulle bring dit stadigaan af,” het hy gesê.

Koben Hofmeyr het ‘n ernstige nekbesering opgedoen in ‘n rugbywedstryd (Foto: Verskaf)

Koben, wat graag skilder, het gister die eerste keer sedert die voorval iets probeer teken. Hy het ʼn rooi hartjie langs ʼn kruis in sy dagstukkie-boek geteken.

Koben se motoriese vaardighede van sy bors af ondertoe is nog nie heeltemal herstel nie en hy kan nie sy hele lyf beweeg nie. “Sy longe is darem al beter, dus is sy asemhaling ook beter. Sy nekstut is af, so hy voel gemakliker. Dit sweet nie meer nie en die wonde kan behoorlik droog word. Die dokters het baie goeie werk gedoen, ʼn mens kan amper nie eens die sny sien nie,” het Hofmeyr gesê.

Volgens Hofmeyr is hulle vasberade om positief te bly deur die hele proses. “Hy vorder elke dag, al is dit net ’n bietjie, en ’n bietjie beteken vir ons só baie. Ons kan net dankie sê vir die Here.”

Dié hartjie is die eerste prent wat Koben na die voorval kon teken (Foto: Verskaf)

Steve Hofmeyr het Koben Woensdag in die hospitaal besoek. Steve was glo in dieselfde hospitaal as Koben nadat hy ʼn bloedklont deur sy hart en long oorleef het. Hy het ʼn foto van hom langs Koben se hospitaalbed op Twitter gedeel.

“Net om my eie ellende in perspektief te plaas, het ek vir Koben Hofmeyr in dieselfde hospitaal gaan kuier. Hy het ʼn ernstige rugbybesering, maar sy glimlag inspireer my. Sterk aan, jong man!” het Steve onderaan die foto geskryf.

Koben se pa is intussen vol lof vir sy seun se dokters. “Ons is só dankbaar vir almal se ondersteuning. Dit is vir Koben ook baie belangrik dat ons dankie sê vir die mense wat niemand raaksien nie. Die celebs sien almal, maar die regte engeltjies in die hospitaal wat al die vuilwerk doen, sien niemand raak nie, en hulle doen regtig baie vir ons.”

Hofmeyr wil graag spesifiek die personeel in die hospitaal bedank. “Baie dankie aan suster Koba, Tanya, Antoinette, Michelle, Kleintjie, Carla, Hermanth, Aneesh, Joby, Sandy, Lana Sajith en Stephanie, asook dr. Siebert Guldenpfennig, dr. Noeth, neurofisioterapeute Esther, Charlotte en Jody, asook arbeidsterapeut Nikki.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Denise ·

Baie gaaf van jou Steve om uit jou pad te gaan vir Koben hoop hy herstel volkome !!!!

NOU is die kans ·

NOU is die kans om die hospitaal se naam te verander na die: ‘HOFMEYR-hospitaal’.
Sterkte aan die Hofmeyr’s en bly tog weg van ‘n hospitaal . . .

Leser ·

Sterkte Koben. Ek hoop jy herstel volkome. Jy is ‘n pragtige seun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.