Bekende skaakmeester maak laaste skuif

Chris Greyling is Donderdag in die ouderdom van 84 jaar oorlede (Foto: Reint Dykema)

Die Suid-Afrikaanse skaakgemeenskap rou oor die dood van een van sy toonaangewende skaakafrigters, Chris Greyling, wat Donderdag in die ouderdom van 84 jaar oorlede is.

In Greyling se loopbaan as skaakafrigter – tussen 1977 en 1984 en toe weer van 1993 tot onlangs – het hy meer as 6 000 kinders afgerig. Talle van sy leerlinge het SA kampioene geword.

Greyling, of “oom Chris” soos hy onder jong skaakspelers bekend gestaan het, het tot onlangs as afrigter by die Laerskool Mooirivier in Potchefstroom gedien. Dié skool was gereeld die wenner van die Super12 Skole-skaakkampioenskapsreeks.

Greyling het nie skaak op skool gespeel nie, maar hy het net ná matriek (in 1957) by ʼn skoolmaat gaan kuier en dié het hom geduldig, stap vir stap, die skuiwe geleer.

Volgens Petro du Plessis, Greyling se dogter, is dit waar sy liefde vir skaak begin het. Dit het ook die grondslag vir sukses met afrigting gelê, naamlik geduld en herhaling.

Skaak was van toe af soos asemhaal vir Greyling.

Volgens Du Plessis het haar pa eers sy eie kinders skaak geleer voordat hy as skaakafrigter begin naam maak het. Greyling het kinders by skole eers in Carolina, Mpumalanga (waar hy grootgeword en skoolgegaan het), en later in Pretoria afgerig. Hy het ook in verskeie skaakkomitees gedien.

Greyling het in 2007 na Potchefstroom verhuis waar hy toe aangegaan het met afrigting by die Laerskool Mooirivier.

Die Chris Greyling-toernooi word ook jaarliks in Pretoria aangebied. Die toernooi is na Greyling vernoem vir die besondere bydrae wat hy tot skaak in die stad gelewer het.

Greyling was ook die skrywer van die boek Skuif na Prestasie en Move to Excellence. In die boeke fokus hy op die verskillende vlakke van afrigting. Daar word aandag gegee aan die geestelike en fisieke voorbereiding voor ʼn belangrike skaaktoernooi. Hy noem ook voorskrifte vir die korrekte eetgewoontes wat konsentrasie help bevorder.

Du Plessis vertel haar pa het elke dag skaak afgerig of gespeel. Hy het ʼn groot invloed op sy jong spelers se lewe gehad.

“As hy nie teen ons kinders gespeel het nie, dan het hy met vriende en skaakklubs meegeding. In sy latere jare het hy en van sy skaakvriende een aand per week beurte gemaak om bymekaar te kom vir ʼn skaakpot.

“Ek onthou dat ons soms by die huis gekom het en dan wag daar kinders op die stoep wat wil skaak speel. Dit was informeel en hy het dit geniet om te sien hoe kinders se potensiaal ontwikkel word.”

Dewald Lubbe (16), een van Greyling se skaakleerlinge van Laerskool Mooirivier, het aan Maroela Media vertel hoe “oom Chris” ʼn wesenlike verskil in sy lewe gemaak het.

“Ek het oom Chris in my gr. R-jaar ontmoet toe hy vrywillig en gratis skaaklessies by my kleuterskool, Rep en Roer, aangebied het. Hy het deur hierdie lessies kleuters geïdentifiseer wat hy uitgenooi het om in gr. 1 formeel by hom skaakopleiding te ontvang in sy motorhuis – wat hy as klaskamer ingerig het. Kleuters en laerskoolkinders het Saterdagoggende by hom klas gehad,” vertel Lubbe.

“Oom Chris het geglo dat jy eers die eenvoudige skaakopeninge baie goed moet ken indien jy skaak wil speel. Blootstelling aan spelle van skaakmeesters was vir hom belangrik. Oom Chris het my aanvanklike belangstelling in skaak ontwikkel wat altyd deel van my lewe sal wees.”

Reint Dykema, skaakfotograaf, het Greyling as ʼn legende beskryf en gesê hy het onbaatsugtig sy tyd afgestaan om skaak te help bevorder.

Greyling word oorleef deur sy vrou, Sophia, en vier kinders, Isabel MacDonald, Pieter Greyling, Jannie Greyling en Petro du Plessis.

Greyling se eie kinders het van jongs af die skaakbord dopgehou en begin vrae vra oor die spel. Hulle het in hul pa se voetspore gevolg en Jannie, Pieter en Isabel het jare later ook as skaakkampioene gespog. Petro het ook professioneel skaak afgerig.

Volgens die kinders was hul pa ʼn mentor wat hulle lewenslesse geleer het wat hulle tot vandag onthou. Hulle sê hul pa het ook gestaan vir reg en regverdigheid en hy het altyd tyd gemaak vir sy medemens.

“Hy was altyd daar vir ons en was ʼn diep gelowige man,” vertel die kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henriet ·

Wat ‘n hartseer dag! Oom Chris was ‘n sowaar ‘n bobaas skaakafrigter en ‘n besonderse mens.

Deonne ·

Baie hartseer, ons land kort meer sulke afrigters, ek self het n groot passie vir skaak, dit is n wonderlike spel. ons land het soveel jong belowende spelers wat ek glo met die korrekte afrigters en finansieele steun hulle stempel in europa , rusland,indie ens kan afdruk. maar ongelukkig gaan alles mos maar vir Krieket , Rugby en sokker (waarin ons pateties is om die minste te se).

Karinb ·

Chris Greyling sal onthou word nie net as ‘n meesterlike skaakafrigter nie, maar oor as ‘n uitsonderlike mens met groot liefde en respek vir sy medemens en veral vir kinders. Dit was ‘n voorreg om jou te kon ken, Chris, jy het ‘n diep indruk op almal gemaak met wie jy in aanraking gekom het.
Dankie MM, vir die pragtige berig oor ‘n spesiale man.

Johannes J B ·

Rus sag oom Chris, jy het n baie groot inpak gemaak op soveel lewens!!! Ons innige meegevoel aan jou vrou, kinders en oorlewende susters.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.