Bekende sopraan sterf

Nellie du Toit. (Foto: FacebooK)

Nellie du Toit. (Foto: Facebook)

Nellie du Toit, die Suid-Afrikaanse operasensasie en sangpedagoog, is Sondag in die ouderdom van 88 in Stellenbosch in die Wes-Kaap oorlede.

Christine Nolte, Du Toit se oudste dogter, het dié nuus aan Maroela Media bevestig en gesê haar ma het gesterf weens komplikasies van ʼn beroerte.

“Sy het ʼn groot beroerte asook longontsteking gehad,” het Nolte gesê. Du Toit het voor haar dood in ʼn aftreeoord in Stellenbosch gewoon.

“Sy het ʼn paar jaar gelede geval en haar heup gebreek. Daarna het haar lewe verander en sy is in die verswaktesorg-eenheid opgeneem. Sy was fisiek baie sterk, maar dié keer het dit haar hard getref.

“Ons het nie gedink dit gaan so gou gebeur nie. Twee van my susters was by haar in die hospitaal die week voor haar dood. My ander suster wat in Australië woon, sal ook Suid-Afrika toe kom vir die begrafnis.”

Du Toit is op 17 Desember 1929 in Polokwane (destyds Pietersburg) gebore. Sy was veral in die 1960’s en 1970’s bekend as sopraan en haar sangloopbaan het oor meer as drie dekades gestrek. Sy is veral vereer vir haar rolle in Madama Butterfly, Lucia di Lammermoor en Jenufa.

Sy het in 45 operaseisoene vir die Uitvoerende Kunsterade gesing. Haar akademiese loopbaan as sangpedagoog aan die Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Kaapstad het oor 14 jaar gestrek.

Du Toit word Woensdag 8 Augustus vanuit die Moederkerk Stellenbosch begrawe. Sy laat vier dogters en talle kleinkinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ander Annie ·

As ‘n groot opera liefhebber was ek bevoorreg om hierdie fantastiese vrou in die opera wêreld se opera’s by te woon. My innige simpatie met haar heengaan. Mag julle vertroosting vind in al die mooi musiek wat sy nalaat.

Theresa ·

Innige simpatie aan familie en vriende.
Sy was voorwaar ‘n superster.

Avra ·

Nog n wonderlike set wat stil geword het. Ek het nog langspeel plate van haar.
Sterkte aan die familie.

John ·

Die goeie, goeie ou dae toe Afrikaners nog hul talente kon uitleef… en Nellie kon soveel verder gevorder het, maar haar gesin en leerlinge het sy vooropgestel. Ons instrumente is nou aan die treurwilgers langs die Vaal opgehang, maar die gene is nog daar. Doen!

E.K. die eerste ·

Groot verlies vir SA en alle operamusiekliefhebbers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.