‘Bekende’ taxibaas van Heidelberg doodgeskiet

Argieffoto.

Die Gautengse polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord nadat die voorsitter van die Heidelberg-taxivereniging vandeesweek koelbloedig in dié dorp doodgeskiet is.

Die vereniging se adjunksekretaris is in die voorval gewond.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê Terrance Ndlovu (41) was Dinsdag op pad om sy kollega Jabulane Mbele (48) huis toe te neem toe ʼn wit Toyota Corolla die voorsitter se BMW in Lekotastraat verbygesteek het.

Die passasier van die Toyota het met die verbygaan skote op Ndlovu se voertuig afgevuur waarna Ndlovu beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn boom langs die pad gebots het.

Ndlovu het net uit die voertuig geklim toe die Toyota ʼn U-draai maak en terugkeer na die toneel waar die BMW teen die boom gebots het. Ndlovu het probeer weghardloop, maar die passasier van die Toyota het weer skote op hom afgevuur en hy is noodlottig gewond.

Volgens Tshilate is paramedici na die toneel ontbied waar hulle tevergeefs Ndlovu probeer bybring het. Hy is op die toneel dood verklaar.

Mbele is ook in die voorval raakgeskiet en sterk tans aan in ʼn hospitaal.

Die motief vir die moord is onbekend en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, het Tshilate gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hasie ·

Al die moorde maak darem ons land ‘n aaklige plek. Ek kuier huidiglik in Frankryk by een van ons kinders en moet oor twee weke weer terug gaan SA toe waar ons gebore is en opgegroei het, die land waarvoor ons lief is, maar glo my, ek gaan terug sonder enige opgewondenheid.

Danien ·

Jammer hulle skiet die verkeerde persoon die skuldige sit agter die stuur

Maljan ·

Baie weet wie die skieter en co was. Ander vermoed (heel korrek) wie die skieter en Co was. Ek hoop hulle beperk hulle breek en brand tot die skuldiges.

Gert van Wierdapark ·

Die Motief vir die moord is tog voor die hand liggend = daar word “Cowboys en Crooks” in die strate gespeel, met die Kroeks oorweldigend in die meerderheid!!! Die “Wilde Weste” is op ons en deel van die plundering van die land!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.