Bekende TV-koskenner in ernstige ongeluk

Foto: Facebook

Die koskenner en televisiepersoonlikheid Leroux van Vuuren was in ʼn ernstige motorongeluk betrokke.

Van Vuuren, wat bekendheid verwerf het ná sy deelname aan die kykNET-werklikheidsreeks Kokkedoor, word na verwagting Vrydag vir ʼn gebreekte pelvis geopereer. Hy het ook talle snye en skaafplekke opgedoen in die ongeluk wat Woensdagoggend plaasgevind het.

Van Vuuren sal ook vandag verskeie skanderings ondergaan om die omvang van sy beserings te bepaal.

Van Vuuren het ʼn paar maande gelede met ʼn projek begin om sy hoërskoolseun, CJ (15), saam met ʼn groep van altesaam 30 leerders na Nieu-Seeland te stuur vir ʼn oorsese rugbytoer. Hy het begin melkterte bak om sodoende geld vir die oorsese toer in te samel en die bestellings het behoorlik ingestroom.

Van Vuuren en ʼn vriend was juis van Gauteng op pad na Langebaan om daar melkterte te gaan bak toe die ongeluk plaasgevind het. Volgens Van Vuuren het hy en ʼn vriend beurte gemaak om te bestuur. Tydens een van sy bestuursbeurte het die vriend op die agtersitplek gelê en slaap toe Van Vuuren omstreeks 04:00 naby Laingsburg beheer oor die motor verloor het en dit die pad verlaat het.

Leroux saam met CJ (Foto: Facebook)

“Ek onthou niks van die gebeure nie. Eric [die vriend] het gesê hy het wakker geword toe die wiele die grond tref, maar besef hy kan niks doen nie. Toe ek wakker word, lê ek asook Eric in die pad met noodligte van ʼn ambulans wat skyn. Ek was vir lank bewusteloos en Eric het my probeer bykry. Ander motoriste het ook later stilgehou en gehelp.” Eric is ook tydens die ongeluk beseer.

Van Vuuren is aanvanklik in ʼn hospitaal in Laingsburg opgeneem, maar later na die staatshospitaal in Worcester oorgeplaas. “Die reaksie op sosiale media is oorweldigend. Ek en Eric waardeer elke boodskap. Ek is so dankbaar.”

Van Vuuren het 198 bestellings vir melktert gehad in Langebaan en sou dit daar bak en aflewer voor hulle na Durbanville sou vertrek waar ʼn volgende 206 bestellings gewag het.

Volgens Van Vuuren lê daar nou ʼn lang herstelpad voor. “Daar lê ʼn baie lang proses voor om weer te leer loop en fisioterapie gaan aan die orde van die dag wees. Ek is egter vol moed en positief.” Intussen sien hy uit na sy kinders wat hom Saterdag in die hospitaal kom besoek.

Van Vuuren het vroeër aan Maroela Media vertel hy het nie ʼn oomblik gehuiwer om die melktertprojek vir sy seun aan te pak om sodoende geld vir die oorsese toer in te samel nie.

“ʼn Ouer sal mos maar enige ding doen vir sy of haar kinders.” Hy het aanvanklik gehoop om ʼn paar duisend rand in te samel, maar dié projek het intussen in ʼn dawerende sukses ontluik. “Dit gaan so goed met die bakkery dat ek die afgelope paar weke my régte werk elke dag opsy moes skuif.”

Die oorsese toer gaan sowat R60 000 kos.

Besoek Van Vuuren se Facebook-blad om sy vordering dop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nettie ·

Leroux, ek is seker daarvan dat jy 100% gaan herstel – jy is immers in een van die beste hospitale (my persoonlike opinie) in die land – Worcester Streekshospitaal. Sterkte, mag jy gou weer op die been wees en sommer 1000’e melkterte bak!!!

GM ·

Is daar mense (of van sy familie/vriende) van daardie omgewing wat nou help bak terwyl hy herstel?
Respek vir daardie pappa wat ‘n plan gemaak het sodat sy seun ‘n kans kan hê om oorsee te gaan. As mens self eers kinders het (of dalk kom dit met ouderdom) besef mens eers regtig watse opofferings/hoe baie daarvan, mens se ouers vir jou as kind gemaak het. So rek maar daardie kuiertjies uit as jul by jul ouers kuier. Hul verdien dit. :-)

Sandra ·

Spoedige herstel. Dis net jammer soveel ouers doen soveel moeite om geld vir sport in te samel maar nie vir wiskunde en wetenskapklasse of akademie nie, dit is wat ons land en ekonomie regtig sou gebou het, nie sport nie.

Mariaan ·

Min pa’s wat so hard sal werk vir hul kinders. My kind se pa wou haar eerste salaris vir homself nadat hy geen onderhoud betaal het nie

Mariaan ·

Mag jy spoedig herstel. Daar is min pa”s wat so hard sal werk vir hul kinders. My kind se pa wou haar eerste salaris vir homself he nadat hy geen onderhoud betaal het nie

Koos ·

Arme man. Hy’t seker aan die slaap geraak. Beter om nie snags langpad te ry nie al bly jy wakker. Daai kinders moet nou maar uitspring en karre was of grassny om die balans in te samel.

Marietjie ·

is daar nie ‘n rekeningnommer waarin mense wat graag ‘n klein bydrae wou maak vir die seun se sporttoer – dit kon maak nie?

Johan ·

Ñ bydra is somer nie reg nie kyk na ons land allmal sukel met geld ons moet net vir ons land bid Die Here sal vir ons help al die vrou met borskanker el bud vir julle dit is my bydra lekker sondag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.