Bekende vaskulêre chirurg sterf

Prof. Cobus van Marle (Foto: Facebook)

Medici is in rou gedompel nadat prof. Cobus van Marle, ’n bekende vaskulêre chirurg by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion, Saterdag oorlede is.

Van Marle sou vandag (Maandag) sy 68ste verjaarsdag gevier het.

Die omstandighede rakende sy dood is nie in dié stadium duidelik nie.

Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling, het die hartseer nuus in ’n kort verklaring bevestig en gesê die personeel van Netcare is diep bedroef oor die verlies van hul “gewaardeerde kollega”.

Du Plessis het voorts gevra dat Van Marle se familie, vriende en kollegas privaatheid gegun word in die moeilike tyd.

“Ons sal in die komende dae ’n doodsberig uitreik,” het Du Plessis gesê.

Van Marle was veral bekend vir die herstel van aneurismes en het in 1998 geskiedenis gemaak toe hy die eerste endovaskulêre aneurisme-herstel in Suid-Afrika uitgevoer het, berig die Pretoria Rekord meer as ses jaar gelede.

Verskeie kollegas en oudstudente van Van Marle het intussen hul hartseer op sosiale media uitgespreek oor hul kollega en mentor se dood.

“Wat ’n voorreg om so ’n meesterlike, toegewyde chirurg te kon ken,” lui ’n roerende inskrywing deur ’n kollega. “Min dokters het groter spore getrap in Suid-Afrika se mediese landskap … Rus in vrede, Mufasa.”

“’n Seder het geval,” lui nog ’n inskrywing.

Van Marle het in 1971 aan Grey Kollege in Bloemfontein matriek behaal waarna hy sy mediese graad aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lee ·

Rus in Vrede Dokter. Baie sterkte aan sy familie en geliefdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.