Bekende Vrystaatse boer met mes op plaas aangeval

Mimie Jacobs nadat sy in 2016 as die Vrystaat se Vroueboer van die Jaar aangewys is. (Foto: Facebook)

Mimie Jacobs, ’n bekende boer van Bloemfontein, is Saterdagaand op haar plaas buite die stad aangeval. Jacobs is in 2016 as die Vrystaat se Vroueboer van die Jaar aangewys.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê aan Maroela Media drie aanvallers het die kombuisdeur van ’n plaashuis in Rosemead oopgebreek en Jacobs binne die huis oorval. Sy was alleen by die huis en die verdagtes het op kontant aangedring.

“Hulle het gedreig dat hulle haar sou doodmaak indien sy nie vir hulle geld gee nie. Die slagoffer het egter nie geld by haar gehad nie en hulle het op haar bankkaart en pinkode aangedring,” sê Makhele.

Volgens Makhele het een van die verdagtes Jacobs aan haar hare gegryp en haar gesig teen die vloer gedruk. Nog ’n verdagte het oor ’n selfoon met iemand gepraat en haar bankbesonderhede deurgegee. Dié persoon kon egter nie geld uit Jacobs se rekening onttrek nie aangesien sy reeds haar daaglikse onttrekkingslimiet oorskry het.

Die verdagtes het met die kaart gevlug en Jacobs kon daarin slaag om hulp op ’n buurplaas te ontbied. Die voorval is omstreeks 23:10 by die plaaslike polisie aangemeld.

Makhele sê Jacobs het steekwonde gedurende die voorval aan haar kop opgedoen en is na ’n hospitaal in die stad geneem vir mediese behandeling. Die verdagtes is steeds soek.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om sers. Monaheng Johannes Masiu by 072 233 0254 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre ·

So gaan dit.Jy kan geen deur of venster meer ooplaat vir selfs ‘n briesie lug nie.Sluit toe en maak toe ons bly in ‘n land wat hool van misdaad.

charmaine ·

EN hulle moes geweet het sy het geld in n rekening, weereens mense wat dalk vir haar gewerk het of dalk werk en inligting deurgee.

Hansie slim ·

En Ramaphosa sê aan die buiteland daar is geen plaasaanvalle in Suid-Afrika nie. Iemand lieg mos nou!! Wonder wie dit is?

Miskruier ·

N totale aanslag op boere, dié wat die koskas se sleutel in die hand het, is in beheer. Mense verhonger wereldwyd omdat hul regerings nie die boere bystaan nie. In China moet hul rotte en vlermuise ens eet, dis n ontwikkelde land, waar is die voerkrale, hoenderplase. Afrika met die beste landbougrond verhonger agv rebelle wat boere aanval. Mense word op hope in kampe gejaag waar die buiteland hul van voedsel voorsien.

Pieter ·

Die uitvloeisel van kommunisme en <1% ekonomiese groeikoers. Politiek gebaseerde kriminaliteit. Wat is nouweer 'n misdaad teen die mensdom?

Antoinette ·

Dis mos nou die land nie. Dis ‘n pragtige land. Dis die mense wat geen respek vir enigiets of enigiemand het nie. Ek is trots op my land – net nie op sekere inwoners nie. Die regering moet leer om hulle mense te dissiplineer. So kan dit nie aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.