Bekende Weskus-restaurant dalk teiken van vandale

Die Strandloper, ‘n bekende restaurant in Langebaan,is die afgelope week in ‘n brand beskadig. (Foto: Caron Maltby)

‘n Groot deel van Die Strandloper, die bekende restaurant in Langebaan aan die Weskus, is die afgelope week deur ’n brand in puin gelê.

Die restaurant behoort aan Justin en Caron Maltby en is al jare lank ʼn bekende en gewilde trekpleister op die dorp.

Die brand het Woensdag kort voor 23:00 uitgebreek.

Caron Maltby het gesê die restaurant het die afgelope ruk onder kleiner voorvalle van vandalisme deurgeloop. Dit het vererger sedert die staat van landwye afsondering sowat ses weke gelede in werking gestel is.

Die restaurant het ʼn week voor die amptelike afsonderingstydperk reeds gesluit omdat daar in daardie stadium reeds talle kansellasies was. Al die voorraad – ook die drank – en die meeste waardevolle items is uit die restaurant verwyder en in ʼn stoorkamer by die egpaar se huis toegesluit.

‘n Septiese tenk en ‘n stoorkamer is ook verwoes. (Foto: Caron Maltby)

Die grootste brandskade is aangerig aan die houtstruktuur van die restaurant en ʼn septiese tenk wat gebruik word. Maltby het gesê dié tenk het heeltemal gesmelt. Tafels, stoele, ʼn stoorkamer en van die visnette wat die restaurant versier het ook in die slag gebly.

“Ons is dankbaar vir die nooddienste vir hul vinnige optrede om die verspreiding van die brand te stuit. Sowat 60% van die restaurant is beskadig, maar ons gaan binnekort begin herbou,” het Maltby Maandag gesê.

Sy het gesê hulle hoop om dié herbouing in ʼn viering van die restaurant, wat al 30 jaar in die familie se besit en 20 jaar deur Justin en Caron se bestuur word, te omskep.

“Dit is hartverskeurend om die restaurant só te sien, maar ons gaan beslis herbou en dit gaan ʼn gróót heropening wees.”

Die Strandloper voor die brand.

Op sosiale media is gerugte die afgelope paar dae versprei dat die restaurant opsetlik aan die brand gesteek is nadat die eienaars kospakkies aan hulpbehoewendes uitgedeel het. Die restaurant is volgens dié plasings afgebrand deur ontevrede inwoners wat nié van die kospakkies gekry het nie.

Maltby het dié gerug as fopnuus afgemaak. “Dis heeltemal onwaar en dit is bisar om te dink waar die gerug vandaan kom.”

Sy het gesê die restaurant het geen kospakkies uitgedeel nie. Hulle het wel geldelik bygedra tot noodlenigingsprojekte in die omgewing.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê die polisie ondersoek die omstandighede rakende die brand om vas te stel of dit ʼn voorval van brandstigting was.

“Ons speurders is nog besig om bewyse in te samel en dit is te vroeg om oor die status van die ondersoek te bespiegel,” het Traut gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lizanda ·

Nee Jaco, bottom line is onder die huidige omstandighede, help net jouself en jou families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.