Bekendes se troues en verlowings in 2019

Vanjaar was ʼn jaar met heelwat verlowings en troues vir die bekendes van Suid-Afrika. Maroela Media het gaan kyk wie almal die jaar die jawoord gegee het en wie aan mekaar trou beloof het.

Verlowings

Katinka Oosthuizen is verloof aan Braam Weyers. (Foto: Verskaf)

Katinka Oosthuizen is verloof aan Braam Weyers. (Foto: Verskaf)

Katinka Oosthuizen is verloof. Haar verloofde, Braam Weyers (21), het haar in Desember by haar ouerhuis op Mosselbaai voor hul nabye vriende en familie die jawoord gevra.

Oosthuizen (21) het tans bykans 89 000 volgelinge op Instagram en 45 000 volgelinge op Facebook. Dié sosialemediafoendi het verlede jaar onder die top-5 van die werklikheidsreeks Survivor geëindig. Sy is tans ook die aanbieder van die musiekprogram, Klink soos naweek, op VIA. Lees meer.

Die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout het in Oktober verloof geraak aan sy meisie van twee jaar, Mica McKechnie. Lees meer.

Prinses Beatrice (31), kleindogter van koningin Elizabeth II en dogter van prins Andrew, die hertog van York, en sy eksvrou, Sarah Ferguson, het in September in Italië verloof geraak.

Sy en Edoardo Mapelli Mozzi, ʼn eiendomsmagnaat, beplan om in 2020 te trou. Lees meer.

Manie Jackson het in Augustus voor ʼn gehoor van 6 000 mense tydens die Krone 6-konsert in Pretoria op sy een knie gegaan en sy meisie, Christel Coetzee, gevra om met hom te trou. Lees meer.

Hykie Berg en sy verloofde, Gerridene de Vries. (Foto: Facebook)

Hykie Berg en sy verloofde, Gerridene de Vries. (Foto: Facebook)

Hykie Berg (41) het in Julie aan sy vriendin Gerridene de Vries (29) verloof geraak.

Maroela Media het vroeër berig dié Binnelanders-akteur het Sondag die nuus op sosiale media bekendgemaak. De Vries is ʼn prokureur. Lees meer.

Die Fynskrif-aktrise Christia Visser het in April verloof geraak aan haar kinderjarevriend, Thomas Webb. Webb, ʼn Engelsman, het die groot vraag op Gansbaai se hawemuur gevra. Lees meer.

Demi-Leigh Nel-Peters, Suid-Afrika se Mej. Heelal 2017, het in Januarie verloof geraak aan die Amerikaanse sportster, Tim Tebow. Tebow is ʼn voormalige Amerikaanse voetbalspeler en speel tans professionele bofbal. Lees meer.

Troues

Deon Meyer en Marianne Vorster op hul troudag. (Foto: Wil Punt van Peartree Photography)

Die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith en Romy Lanfranchi is op 2 November by Beloftebos in die Wes-Kaap getroud.

Die paartjie het reeds ʼn tweejarige seuntjie, Sebastien, saam. Smith het twee kinders uit sy vorige huwelik en Lanfranchi twee seuns uit haar vorige huwelik. Lees meer.

Suid-Afrika se voorste spanningskrywer, Deon Meyer, en die kunstenaar Marianne Vorster het op 31 Augustus ewige trou aan mekaar beloof in die Stellenbosch United Church. Lees meer.

Die sanger Roan Ash en Zonika Mellet is in Augustus tydens ʼn klein, intieme geleentheid in George in die Suid-Kaap getroud. Lees meer.

André van Zyl (35), beter bekend as Boer André van die 11de seisoen van die gewilde kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou, en Monja Strydom (25) is op 17 Mei getroud.

André was een van die gunstelingboere op dié reeks, maar het nie sy trouvrou op die kassie ontmoet nie. Nadat Monja hom op die televisie gesien het, het sy vir hom ʼn vriendskapsversoek op Facebook gestuur. Hulle het ná ʼn warrelwind-romanse verloof geraak. Lees meer.

Ivan Botha en Donnalee Roberts het op 17 Mei op die prentjiemooi Blaauwklippen-wynlandgoed in Stellenbosch getrou. Die paartjie het in Oktober aangekondig dat hulle swanger is met ʼn seuntjie. Lees meer.

Die sangeres Zita Pretorius het in Mei vanjaar in ʼn onderhoud met Maroela Media onthul sy is in Desember op Oukersaand stilletjies getroud is met Eddie Clayton, ʼn dirigent, komponis en musiekregisseur. Lees meer.

Mathys Roets en sy vriendin van die afgelope nege jaar, Jané von Litsenborgh, het in April tussen die berge in Robertson ewige trou aan mekaar beloof.

Die paartjie het in April 2018 verloof geraak. Lees meer.

Simoné Nortmann, die gewilde aktrise wat tans elke weeksaand op die kassie kuier as René Spies in die kykNET-sepie Binnelanders, en die rekenmeester Andries Pretorius is in Februarie getroud by die Lunikhy-wildsplaas buite Bela-Bela. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.