Bekendes wat in 2018 dood is

Talle bekendes, plaaslik en wêreldwyd, is in 2018 oorlede.

Hier is ʼn paar van die bekendstes:

Dolores O’Riordan. Foto: AP Photo/Bruno Bebert, File

Bennie Bierman, die bekende Afrikaanse komponis wat onder meer die temamusiek vir Haasdas se nuuskas geskryf het, is op 1 Januarie in die ouderdom van 77 ná komplikasies van ʼn operasie oorlede. Lees meer.

Keorapetse William Kgositsile, meer bekend as Bra Willie, die bekende digter, politieke aktivis en Suid-Afrika se amptelike eredigter is op 3 Januarie dood. Lees meer.

John Roos, een van die reuse in Suid-Afrikaanse klassieke musiek, is op 8 Januarie in die ouderdom van 72 in Pretoria dood ná ‘n beroerte. Lees meer.

Dolores O’Riordan, die hoofsangeres van die rockgroep The Cranberries, is op 15 Januarie onverwags in die ouderdom van 46 dood. Sy het in ʼn bad verdrink nadat sy ʼn groot hoeveelheid alkohol ingeneem het. Lees meer.

Die Suid-Afrikaanse jazz-legende Hugh Masekela is op 23 Januarie aan prostaatkanker oorlede. Lees meer.

Die veteraan-akteur David Phetoe is op 31 Januarie in ʼn hospitaal in die ouderdom van 85 ná ʼn kort siekbed oorlede. Lees meer.

John Mahoney. Foto: (AP Photo/Matt Sayles, File)

John Mahoney, bekend as die befoeterde pa in die gewilde TV-komediereeks Frasier, is op 4 Februarie in die ouderdom van 77 weens verskeie gesondheidskomplikasies waaronder longkanker, dood. Lees meer.

Morgan Tsvangirai, leier van die MDC-T, die opposisieparty in Zimbabwe, is op 14 Februarie aan kanker oorlede. Lees meer.

Die wêreldbekende fisikus Stephen Hawking is op 14 Maart in die ouderdom van 76 aan motorneuronsiekte oorlede. Lees meer.

Die aktrise Bronwyn van Graan is op 31 Maart oorlede. Lees meer.

Winnie Madikizela-Mandela, ANC-struggleveteraan en eksvrou van oudpres. Nelson Mandela, is op 2 April in die ouderdom van 81 ná komplikasies met diabetes en verskeie operasies oorlede. Lees meer.

Pam Golding (Foto: Verskaf)

Die eiendomsikoon en sakevrou Pam Golding is op 3 April in haar Wittebomen-huis in Constantia, Kaapstad, in haar slaap oorlede. Lees meer.

Die gewilde Sweedse platejoggie en musiekvervaardiger Tim Bergling, oftewel Avicii, het op 20 April vanjaar sy eie lewe geneem. Hy was 28 jaar oud. Lees meer.

Verne Troyer, die akteur wat die beste bekend was vir sy rol as “Mini Me” in die Austin Powers-flieks is op 21 April in die ouderdom van 49 jaar in Los Angeles oorlede. Hy het sy eie lewe geneem. Lees meer.

Margot Kidder, die aktrise wat bekend is vir haar rol as die joernalis Lois Lane in die Superman-flieks, het op 13 Mei haar eie lewe geneem. Sy was 69 jaar oud. Lees meer.

Die bekende skrywer Cecile Cilliers is op 16 Junie in die ouderdom van 85 aan ʼn hartkwaal oorlede. Lees meer.

Annalise Wiid. Foto: Facebook

David Goldblatt, die gevierde fotograaf en ontvanger van die nasionale Orde van Ikhamanga, is op 25 Junie in die ouderdom van 87 aan kanker dood. Lees meer.

Annalise Wiid, die geliefde Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, skrywer en spreker, is op 27 Junie in die ouderdom van 57 ná komplikasies van ʼn breinoperasie oorlede. Lees meer.

Dr. Renata Coetzee, die bekende koskultuurkenner, is op 27 Junie in die ouderdom van 88 in Stellenbosch ná ʼn lang siekbed oorlede. Lees meer.

Nellie du Toit, die Suid-Afrikaanse sopraan en sangpedagoog, is op 29 Julie in die ouderdom van 88 in Stellenbosch in die Wes-Kaap na komplikasies van ʼn beroerte oorlede. Lees meer.

Koos Human, een van die invloedrykste figure in die ontwikkeling van die Afrikaanse uitgewerswese, is op 10 Augustus in die ouderdom van 87 in sy huis in Kaapstad ná ʼn lang siekbed dood. Lees meer.

Prof Christo Janse van Rensburg, een van die bekendste Afrikaanse taalkundiges, is op 13 Augustus in die ouderdom van 80 oorlede. Lees meer.

Aretha Franklin (Foto: AP Photo/Paul Sancya)

Die Amerikaanse sangeres Aretha Franklin (76) is op 16 Augustus by haar huis in Detroit in die VSA aan pankreaskanker oorlede. Lees meer.

Kofi Annan, die Ghanese diplomaat wat as die sewende sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) gedien het, is op 18 Augustus in die ouderdom van 80 ná ʼn kort siekbed oorlede. Lees meer.

Lerina Erasmus, die Afrikaanse skrywer onder meer bekend vir die Die Mannheim sage-reeks, is op 20 Augustus aan longkanker oorlede. Erasmus (71) het verskeie radiodramas geskryf en het veral bekendheid verwerf vir Die Mannheim-sage. Lees meer.

Amerika se veteraan-politikus, John McCain, is op 25 Augustus in die ouderdom van 81 aan breinkanker oorlede. Lees meer.

Prof. Marinus Wiechers, voormalige rektor van Unisa en geag as een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande grondwetkenners, is op 31 Augustus in die ouderdom van 81 aan hartprobleme oorlede. Lees meer.

Burt Reynolds (Foto: Burt Reynolds Fan Club, Facebook)

Die akteur Burt Reynolds is op 6 September in die ouderdom van 82 in Florida in die VSA aan ʼn hartaanval oorlede. Lees meer.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, is op 22 September in die ouderdom van 61 aan legioensiekte oorlede. Lees meer.

Die operasangeres Montserrat Caballé, wat die duet “Barcelona” saam met Freddie Mercury gesing het, is op 6 Oktober in die ouderdom van 85 aan galblaasprobleme oorlede. Lees meer.

Oudmin. Pik Botha is op 12 Oktober in die ouderdom van 86 aan natuurlike oorsake oorlede. Botha was met ʼn dienstyd van 17 jaar tussen 1977 en sy 62ste verjaardag op 27 April 1994 een van die wêreld se langsdienende ministers van buitelandse sake. Lees meer.

Jabulani Tsambo, die Suid-Afrikaanse hip-hop-ster, beter bekend as Hip Hop Pantsula of HHP, het op 24 Oktober vanjaar sy eie lewe geneem. Hy was 38 jaar oud. Lees meer.

Shareen Swart, die bekende Suid-Afrikaanse aktrise, skrywer en regisseur, het op 29 Oktober ná ʼn lang siekbed haar stryd teen kanker verloor. Lees meer.

Stan Lee (93) tydens die Tokio Comic Con by Makuhari Messe in Chiba (Foto: ANA)

Die Marvel Comics-legende Stan Lee is op 12 November in die ouderdom van 95 aan hart- en respiratoriese versaking oorlede. Lee was ʼn Amerikaanse strokiesprentskrywer, redakteur, uitvoerende rolprentvervaardiger, akteur en uitgewer. Lees meer.

Stephen Hillenburg, wat die gewilde kinderprogram SpongeBob SquarePants geskep het, is op 26 November in die ouderdom van 57 aan motorneuronsiekte oorlede. Lees meer.

George Bush, die VSA se 41ste president en die pa van die 43ste president, George W. Bush, is op 30 November in die ouderdom van 94 dood. Lees meer. Sy vrou, Barbara, is op 17 April vanjaar oorlede.

Dr. Alex Boraine, ondervoorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) van 1996 tot 1998, oudparlementslid en geestelike leier, is op 5 Desember in die ouderdom van 87 in sy slaap oorlede. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.