Bekendstelling van 2017-matriekuitslae goedgekeur

Die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding tydens ʼn mediakonferensie (29 Desember 2017). Foto: Brenda Masilela/ANA

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, het Vrydag gesê hy het vrystelling van die “geloofwaardige” uitslae van die 2017-matriekeindeksamens goedgekeur.

Die matriekuitslae sal amptelik die aand van 4 Januarie 2018 bekendgemaak word en leerders sal vanaf 5 Januarie hul volle uitslae kan bekom.

Prof. John Volmink, voorsitter van die Umalusi-raad, het tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê die raad het al die bewyse wat voorgelê is nagegaan en geen stelsel-onreëlmatighede is waargeneem wat moontlik die geloofwaardigheid of integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens kon beïnvloed nie.

Volmink het gesê dit is vir Umalusi verblydend om ʼn aansienlike verbetering in die algemene gehalte van vraestelle waar te neem, aangesien meer vraestelle goedgekeur is na die eerste of tweede indiening deur eksterne moderators.

Hy het gesê Umalusi het die vraestelle ekstern laat modereer, terwyl die raad ook die aflê van die eksamens, die merk van vraestelle en die seleksie van merkers in die onderskeie provinsies gemonitor het.

Die matrieks van 2017 was die vierde groep Graad 12’s wat hul matriekeksamens volgens die KABV-belynde kurrikulum geskryf het. Volmink het dit laat deurskemer dat dié groep nader aan die gemiddelde historiese prestasieprofiel beweeg het.

“Dit is verblydend om te sien daar is ʼn bestendige opwaartse neiging in vakke soos wiskunde, wiskundegeletterdheid, fisieke wetenskappe en lewenswetenskappe,” het hy gesê.

“As Umalusi sal ons voortgaan om te strewe na ʼn stelsel wat hoë gehalte standaarde handhaaf in belang van Suid-Afrikaanse leerders. Die raad is deeglik bewus daarvan dat sommige van ons leerders geweldige uitdagings moet oorkom om ʼn kwalifikasie te behaal, veral die graad 12-eksamen,” het hy gesê.

“Ons sal geen moeite ontsien om seker te maak dat ons ons onderwysstelsel van onder af versterk en strewe na uitnemendheid in onderrig en leer nie. Ons kan nie bloot op die standaardisering [van eksamenuitslae] staatmaak om die slaagsyfer te verbeter nie.”

Volmink het ook van die geleentheid gebruik gemaak om leerders wat goed presteer het in die matriekeksamen geluk te wens, asook hul onderwysers, ouers en voogde.

Hy het ook ʼn boodskap gehad aan matrieks wat in Januarie sal uitvind hulle het nie geslaag nie. “Aan di wat nie suksesvol was nie, daar is vir julle nog ʼn kans volgende jaar. Werk hard en doen goed. Ons wens vir julle die beste toe vir 2018.”

Mafu Rakometsi, Umalusi se uitvoerende hoof, het gesê ondanks geringe ontwrigtings in sekere dele van die land, het die eksamens relatief sonder enige voorvalle verloop. “Dit is aanduidend van die sukses van die rigiede maatreëls wat deur die departement van basiese onderwys ingestel is om voorvalle van ontwrigting te voorkom,” het Ramoketsi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJC ·

Dit lyk of matriekeksamens besig is om ń helse grap te word.

Daan ·

Wanneer raak hulle ontslae van die wiskunde geletterdheid of soos dit op skool bekend staan as hasie wiskunde

Ronel ·

Vra dit. Dis die grootste joke vir ‘n vak wat dar is. Dankie tog ons het dit nie op skool gehad nie. Jammer die jong mense van vandag moet daai nonsens opvreet.

Eish ·

Ek sukkel maar om die Umalusi raad se soetklinkende woorde te sluk. Dis geneig om dwars vas te sit veral nadat ek vanoggend tydens n onderhoud met een van die lede moes verneem van die raad se outoriteit om punte in vakke met n hele 10% op of afwaarts te kan aanpas. Nadat die agbare lid gevra is in watter vakke is aanpassing gemaak, kon hy skielik nie onthou nie.

Liza101 ·

Ons hoop maar vir die beste! My kind nou matriek geskryf, die eindeksamen was beter as die rekord. Rekord eksamen was daar baie foute in die vraestelle, direk vertaal van engels na afrikaans. Biologie vraestel het geen leestekens of spasies tussen woorde gehad nie! Limpopo is pateties!

Tienie ·

Ja wat ek weet nie hoe bepaal hulle die punte aanpassings nie – dit word al hoe makliker . Een van die dae kan jy spog jy het matriek met ‘n ‘ bicycle gepass’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.